Local newsNewsSchools

Raak betrokke by jou plaaslike skole

In sy reaksie op die jongste onderwyskrisis in Limpopo, waar talle skole nog nie hul halfjaarlikse subsidies ontvang het nie en eksamens uitgestel moes word omdat daar nie geld was om vraestelle te druk nie, het Seymour Bothman, die Afrikaanse Taal-en Kultuurvereniging (ATKV) se senior bestuurder van onderwys, gesê dié organisasie is baie bekommerd oor …

In sy reaksie op die jongste onderwyskrisis in Limpopo, waar talle skole nog nie hul halfjaarlikse subsidies ontvang het nie en eksamens uitgestel moes word omdat daar nie geld was om vraestelle te druk nie, het Seymour Bothman, die

Afrikaanse Taal-en Kultuurvereniging (ATKV) se senior bestuurder van onderwys, gesê dié organisasie is baie bekommerd oor die stand van onderwys in Suid-Afrika.

“Skole as sosiale en opvoedkundige instellings is belangrik om leerlinge as toekomstige leiers voor te berei op verantwoordelike burgerskap,” vertel Seymour.

Hy meen egter dat die opvoedingsdoel vir die meeste Suid-Afrikaanse leerlinge steeds slegs ‘n droom is.

“Op die vooraand van Jeugdag 2013 is die harde werklikheid dat internasionale evaluerings en nasionale assesseringtoetse toon dat die prestasievlakke van Suid-Afrikaanse leerlinge op laerskool- en hoërskoolvlak onder aanvaarbare vlakke is,” vertel Seymour.

Dis vir die ATKV kommerwekkend dat baie klaskamers nie eers stoele het nie.

“Leerlinge moet hul eie stoele van die huis af bring en na verskillende klaskamers saamdra. By ander skole kry net die wie eerste opdaag – wat beteken leerlinge moet so vroeg as 6vm al by die skool wees, om stoele te kry op te sit. Die wat later opdaag, moet staan-staan leer, op die vloer sit of lessenaars of stoele met hul maats deel,” vertel Seymour.

‘n Ander probleem is oorvol klaskamers.

In sommige klasse is daar tussen 120 en 145 sekondêre skoolleerlinge in ‘n enkele klaskamer. Waar leerlinge nie in ‘n klaskamer gehuisves kan word nie, vind onderrig buite plaas waar hulle aan wind en weer blootgestel is.

Vir Seymour as onderwyskundige is die situasie kommerwekkend.

“As daar tans ‘n beduidende aantal skole in Suid-Afrika is wat nie oor die basiese geriewe beskik om effektiewe onderrig te gee nie, hoe gaan gehalte leer en onderrig in alle skole bevorder word? Skole as opvoedkundige instellings is immers waar jeugdiges moet leer oor demokratiese praktyke, en is waar geleenthede geskep moet word vir die grootmenswêreld wat op hulle wag,” sê Seymour.

Volgens hom is onderwyskenners en onderwysverwante organisasies dit eens dat dié gebrek aan minimum norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur een van die faktore is wat sosiale beweeglikheid en akademiese prestasie van die armste leerlinge nadelig beïnvloed.

“Indien die situasie nie ernstig aangespreek word nie, gaan dit ernstige ekonomiese gevolge vir die land inhou. Die huidige werkloosheidsyfer van 4,6 miljoen mense is reeds kommerwekkend,” vertel Seymour.

Seymour het dit benadruk dat die ATKV ‘n ernstige beroep doen op die nasionale onderwysdepartement en die provinsiale departemente om die situasie aan te spreek en gebreke reg te stel waar daar ernstige onderwysbehoeftes voorkom.

“Ons is ook van mening dat elke lid van die gemeenskap – en dit sluit jeugdiges in – verantwoordelikheid moet aanvaar en betrokke moet raak by die onderwys van alle kinders in Suid-Afrika,” vertel Seymour.

Hy het weer namens die ATKV ‘n beroep gedoen op skole waar dit goed gaan en instellings om uit te reik na skole wat probleme het.

“Ondersteun hulle sodat onderwys in alle skole kan verbeter. Met die onderwysprojekte Handevat, Sterskole en Onderwys-kopskuif onderneem die ATKV om ‘n bydrae te maak om skole te ondersteun ten einde maatskaplike samehorigheid en akademiese uitnemendheid te bevorder.”

“Kom ons gee elke leerling ‘n regverdige kans om hulle te bekwaam om as selfstandige, aktiewe, verantwoordelike burgers deel van ‘n suksesvolle gemeenskap te wees. Kom ons sit skouer aan die wiel en vat hande om skole in instellings te omskep wat leerlinge voorberei om hul plek in die samelewing vol te staan.”

Vir meer inligting skakel gerus met Seymour Bothman by 083 251 5245.

Related Articles

Back to top button