Ram groet geliefde hoof

Dit was met skok en hartseer dat 'n verslae groep Laerskool Randfontein personeellede op 21 Mei van hul hoof, Frik van der Berg se aftrede verneem het.

Frik was vir verskeie jare aan die stuur van sake by Laerskool Randfontein, maar sal aan die einde van die kwartaal die leisels aan sy opvolger oorhandig aangesien hy nou gaan aftree.

Die geheim van sy sukses as onderwyser was die bereidwilligheid om uit elke situasie, van elke kollega as vakkundige en ook van elke leerling as volwassewordende iets te leer.

Sy nederigheid en sy insig in die kompleksiteit van menseverhoudinge het van hom ‘n geliefde hoof en ‘n gewaardeerde kollega gemaak.

Die onderwys was vir hom beslis nie net ‘n beroep nie maar ‘n roeping. Hy was meer as net ‘n goeie onderwyser. Hy was ‘n mentor, leier en hoof. Iemand wat nooit deur sy leerlinge en kollegas vergeet sal word nie.

Hy was ‘n onderwyser wat deur toewyding aan sy roeping en harde werk besonder suksesvol was.

Sy onverstoorbare kalmte onder alle omstandighede en in alle situasies, was vir sy kollegas en medewerkers waarskynlik dié opvallendste kenmerk.

Hy sal onthou word as ‘n man met ‘n wakker gees en ‘n lewendige belangstelling in sy groot liefde vir onderwys wat altyd ‘n verskil in sy leerlinge se lewe gemaak het.

Laerskool Randfontein se personeel dank hul Hemelse Vader vir die voorreg om vir Frik van den Berg as vriend en hoof te ken en wens hom ‘n lang lewe, goeie gesondheid, geluk en seën toe.

Hy het diep spore by die skool getrap en sal altyd onthou word vir die juweel van ‘n hoof wat hy was.

Exit mobile version