NewsSchool sportSchoolsSport

Jannas netbal wen Jomo reeks

Hoërskool Jan Viljoen se eerste netbalspan is vanjaar onstuitbaar en is oppad Gauteng kampioenskappe toe om die kanonne in die netbalwêreld die stryd aan te sê. Jannas se netbalspan het hul liga gewen en deurgedring na die Jomo Uitspele toe wat op 31 Mei en 1 Junie plaasgevind het. Daar het hulle meegeding teen skole …

Hoërskool Jan Viljoen se eerste netbalspan is vanjaar onstuitbaar en is oppad Gauteng kampioenskappe toe om die kanonne in die netbalwêreld die stryd aan te sê.

Jannas se netbalspan het hul liga gewen en deurgedring na die Jomo Uitspele toe wat op 31 Mei en 1 Junie plaasgevind het.

Daar het hulle meegeding teen skole soos Linden, Helpmekaar Kollege, Northcliff, Crawford College en Riebeeckrand.

Jannas se eerstespan het triomfeer nadat hulle skoonskip gemaak het en al bogenoemde skole oortuigend geklop het.

Hoërskool Linden was ‘n gedugte opponent om mee rekening te hou. Jan Viljoen het hulle met 16 – 6 geklop. Die speelsters se balplasing was foutloos en die doele uiters akkuraat.

Helpmekaar Kollege is ook die loef afgesteek ten spyte van die Gauteng-spelers in hulle span. Na ‘n titaniese stryd het Jan Viljoen met 19 – 8 as oorwinnaars uit die stryd getree.

Saterdagoggend het Jan Viljoen hul segetog voortgesit en Northcliff na ‘n taai, fisiese wedstryd met 16 – 12 gewen.

Jan Viljoen se speelsters het in die wedstryd gedomineer met puik samespel.

Teen Crawford College het Jannas se netbalspan se perfekte spelpatroon weer vrugte afgewerp. Hulle het telkens hul eie afgooie behou en met puik verdediging en onderskeppings die bal gedraai en die wentelling van 30 – 4 vertel sy eie storie.

Die laaste wedstryd tydens die Jomo Uitspele was tussen die twee buurskole, Hoërskool Jan Viljoen en Hoërskool Riebeeckrand.

Dit is ‘n veer in die hoed van elke Randfonteiner dat twee van Randfontein se hoërskole by die Jomo uitspele was. Jannas se netbalspan was reeds soos ‘n geoliede masjien en hul spelpatroon, balvaardigheid, verdediging en samespel was net een te veel vir hul opponente.

Hoërskool Jan Viljoen het as oorwinnaars uit die stryd getree met ‘n oortuigende oorwinning van 20 – 9.

Hoërskool Jan Viljoen se eerste netbalspan was die enigste span tydens die eerstespanne se stryd wat geen wedstryd verloor het nie.

Dié talentvolle span sal op 15 en 17 Junie aan die Gauteng Kampioenskappe by Hoërskool EG Jansen deelneem.

Hoërskool Jan Viljoen se eerste netbalspan sal as ambassadeurs van Randfontein beslis Randfontein se naam hoog hou tydens die Gauteng Kampioenskappe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button