Municipal

Gesin se struikel met lekkende watermeter sedert 2022

Fred Parrot en sy gesin is bekommerd oor 'n lekkende watermeter en die skade wat dit tans aanrig.

’n Greenhills-gesin se watermeter het in Januarie 2022 gebreek en volgens Fred Parrot (69) het hy sedertdien elke maand die probleem by die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, maar sy klagtes val op dowe ore.

Hy het bygevoeg dat die stukkende meter nou ‘n groter probleem veroorsaak.

“Ek het vir die munisipaliteit gesê dat my watermeter gedurig lek. Hulle het gesê hulle sal verteenwoordigers uitstuur om na die probleem te kyk. Dit het nooit gebeur nie. Toe ek navraag daaroor doen het hulle vir my gesê hulle het nie nuwe meters in voorraad nie en ek sal moet wag vir hulle om voorraad te kry,” het Parrot verduidelik.

Fred se tuin bedek met water.

Die plasse water bedek tans Parrot se tuin en druk teen die muur en veroorsaak groot ongerief vir beide Parrot en sy gesin.

“My grootste bekommernis is die muur. Die water veroorsaak skade aan die fondasie en ek is bang die muur sal mettertyd ineenstort. Boonop kan ons nie eers die huis se water gebruik om ons daaglikse take te doen nie, want die waterdruk is te laag,” het hy uitgespreek.

Die water stoot op teen die muur.

Vir Parrot is ‘n ander bekommernis die skuiling wat sy dogter vir minderbevoorregte kinders het.

“My dogter het ‘n veilige hawe gevestig. As die kinders by hierdie huis kom moet ons die deur toemaak sodat hulle nie buite ronddwaal nie. Ons is te bang om die kinders buite te laat aangesien die waterpoele so groot en diep is,” het hy bygevoeg.

Die watermeter is al toegegrooi onder gras en water.

Die Randfontein Herald het die munisipaliteit op 2 Oktober om kommentaar genader waar Phillip Montshiwa, munisipale woordvoerder, bevestig het dat hy die saak na die betrokke departement deurgestuur het. Op 9 Oktober het die Herald Montshiwa weer genader, waarna hy gesê het hy sal opvolg.

Verdere kommentaar van die munisipaliteit was nie teen druktyd beskikbaar nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button