SportSport

Teine derdes maak Randfontein trots, haal Pirates-liga eindstryd

Drie senior spanne van Randfontein Rugbyklub was onlangs in die halfeindstryd van die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks in aksie. Slegs die derde span het gewen en sal in die eindstryd in aksie wees.

Randfontein Rugbyklub se eerste en tweede span se droom om die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks-titel te wen, is verby.

Dít nadat beide spanne in die halfeindstryd op 7 September die onderspit gedelf het teen hul onderskeie opponente. Teine se eerste span het 24–12 teen Pirates verloor terwyl die tweede span 68–0 slae gekry het teen Pukke.

Daar was wel ‘n lig aan die einde van die tonnel op die dag met Randfontein Rugbyklub se derde span wat hul plek in die eindstryd van die reeks bespreek het ná ‘n indrukwekkende sege van 29–21 oor Pirates.

Michael Tolmay en Jacqone de Villiers werk saam om ‘n aanvaller in sy spore te stuit.

Die Teine derdes het vier drieë gedruk danksy Tiaan Beyleveld, Quintin Korb, Eugene Willemse en Sifiso Miya met Ryan Strydom wat drie doelskoppe en een strafskop oorgeklits het.

Hulle pak dus die studente van Wits in die eindstryd wat weg van die huis op 13 September plaasvind.

Die klub vra dat die gemeenskap hul groen truie aantrek en die span kom ondersteun.

Related Articles

Back to top button