Sport

Wes-Rand hengelkampioene gekroon

Wes-Rand Hengelklub het onlangs hul klubkampioene vir 2024 aangekondig.

Die Wes-Rand Hengelklub het op 10 Augustus hul jaarlikse prysuitdeling gehou waar vissermanne – en vroue – vir hul prestasies langs die water vereer is.

Die klub is in 1998 gestig en het oor die jare heelwat top hengelaars opgelewer.

Volgens Chantell Venter, klubwoordvoerder, is die jaarlikse prysuitdeling ‘n hoogtepunt op die klubkalender.

“Ons hou elke derde Saterdag van die maand ‘n hengelkompetisie. Hierdie kompetisies word elke maand by ‘n ander dam rondom die Vaaldam sowel as die Noordwes Provinsie gehou.”

Danika Norval.

Chantell sê dié kompetisies gee lede die kans om hul passie vir visvang uit te leef, maar dat dit ook ’n ideale wegbreek vir die hele gesin is.

“Dit is ‘n wonderlike sosiale geleentheid waar gesinne bymekaarkom en die dag in die natuur deurbring.”

Klublede ding gedurende die jaar mee vir wisseltrofeë in die onderskeie kategorieë vir mans en vroue. Kinders ding mee om die verskillende pryse in die Penkop-afdeling.

“Elke deelnemer se vangs word geweeg waarna wenners vir die kompetisie aangekondig word,” sê Chantell. “Een keer per jaar word die algehele wenners in die verskillende kategorieë aangekondig, insluitend pryse vir die grootste vis per spesie.

Pieter Labuschagne en Armando van Wyk.

“Vanjaar het ons klublede weer uitstekend gevaar. Die kompetisies deur die jaar is baie pret, maar ook ernstige besigheid. Hengelaars in al die afdelings werk hard aan hul tegniek en voerresepte om die beste vis te land.”

Die top vyf manshengelaars hierdie jaar was Terence Erasmus, Charles Saunders, Cameron Erasmus, Piet Nienaber en Schalk van der Berg.

Magda Opperman, Petro Wheeler en Marietjie Strydom is as die top drie vouehengelaars gekroon.

Dylan Opperman is as die klubkampioen in die Penkoppe-divisie aangewys.

Related Articles

Back to top button