Local news

Hidrokefalie-soldaat mars na genesing

Die sesjarige Damian het 'n moelike begin in die lewe gehad maar is tans op sy genesingsreis as 'n Hidrokefalie-slagoffer.

Shawn Damian van Aarde (6) is ‘n ywerige soldaat wat alle uitdagings in die lewe oorkom.

Damian se ma, Marinda, het vertel van sy lewenslange struikelblok en hoe hy ondanks al die struikelblokke steeds sterk staan.

“September is Hidrokefalie Bewusmakingsmaand en ek glo dit sal ander indiwidue help as ek meer kan praat oor die toestand waarvan so min mense weet,” het Marinda uitgedruk.

Haar seun se brose toestand het begin toe Marinda ná 42 weke van swangerskap ’n moeilike geboorte beleef het. Volgens Marinda moes die dokters spesifieke toestelle gebruik om hom uit te kry en kort ná sy geboorte, was Damian blou.

Twee weke na sy geboorte het Damian longontsteking ontwikkel en was gehospitaliseer.

“Dit was elke maand die geval. Hy was in en uit die hospitaal. Hy was gemiddeld twee keer per maand opgeneem,” het Marinda hartgebroke vertel.

Toe hy twee maande oud was, het hy ook ’n virus opgetel wat hom verlam gelaat het. Marinda het bygevoeg dat Damian onder terapie herstel het.

Hoewel Marinda nooit geweet het waar die fout lê nie, het die dokters Damian met asma gediagnoseer.

“Dit het beter geword, maar hy het steeds siek geword en was agter op al sy mylpale,” het sy verduidelik.

Op slegs twee jaar oud het hy aan ‘n erge tooninfeksie gely en moes weer in die hospitaal opgeneem word. Marinda het beweer die pediater het besluit om ‘n MRI-skandering te doen.

“Die skandering het getoon dat sy hele brein met vloeistof bedek was. Die dokters het gevind dat die breinklep glad nie ontwikkel het nie en die brein en die vogholte het aanmekaar vasgegroei. Dit het serebrospinale vloeistof laat opbou,” het sy gesê.

Verder het hy Corpus Callosum, wat Marinda verduidelik het dat die kommunikasie tussen sy regter- en linkerbrein nie ten volle ontwikkel is nie. Damian is intussen met hydrokefalie gediagnoseer en as gevolg van al die druk is sy serebellum (kleinbrein) misvormd.

“Sy neurochirurg het breinchirurgie bespreek waar ‘n ventrikuloperitoneale shunt in sy brein geplaas is om die oortollige serebrospinale vloeistof te dreineer. Die operasie het op die dag van die inperking plaasgevind,” het sy gesê.

Marinda het bygevoeg alhoewel dit ‘n algemene prosedure was, het dit onbekende gevare ingehou.

“Ons het nie geweet Damian was allergies vir gasnarkose nie en dit het komplikasies veroorsaak. Sy hart het in teater ook gaan staan, maar ten minste het hulle hom geresussiteer,” het sy met verligting uitgespreek.

Volgens Marinda was die dokter sowat vier uur in die teater besig weens die personeel wat gesukkel het om Damian se steke in te sit.

Nadat hy vier jaar oud geword het, het Damian vir immunoterapie gegaan. Dié besluit is geneem nadat toetse aangedui het dat sy immuunstelsel nie behoorlik funksioneer nie.

“Daarna het dit baie beter gegaan en sy mangels is ook uitgehaal. Hy word nou gemiddeld net twee keer per jaar opgeneem en ons is uiters dankbaar daarvoor,” het sy gesê.

Ten spyte van Damian se toestand wat effens verbeter het, is hy onlangs met kinderdepressie gediagnoseer. Marinda het bygevoeg dat Damian weekliks verskeie terapeute moet sien om hom te help met sy substandaard ontwikkelingsvlakke. Hy moet ook ’n terapiehond kry wat hom sal help om sy brein te stimuleer sodat meer oksitosien afgeskei kan word.

Damian is tans twee jaar agter emosioneel en sosiaal. Marinda het gesê Damian se spraak is ook nie op standaard nie. Hy vind klein en groot motoriese bewegings moeilik. Damian het ’n fisieke beperking en mag weens sy toestand nie sy kop stamp nie.

“Hoewel Damian se grootste droom is om rugby te speel, mag hy nie aan kontaksport deelneem nie. Hy verstaan nie hoekom hy ‘anders’ van die ander kinders is nie. As gesin is dit net ‘n rollercoaster. Baie min mense verstaan regtig omdat as hulle hom sien lyk hy vir hulle 100% normaal en daarom oordeel hulle hom. Elke dag is ’n uitdaging op sy eie,” het sy gesê.

Verder is daar ook finansiële uitdagings. Sy terapie-uitgawes beloop weekliks ongeveer R5 000 en die terapiehond kos R9 000 en die opleiding R9 950.

“Ons wil graag vanjaar ‘n bewusmakingsveldtog loods waar ons die gemeenskap vra om blou te dra en op ‘n stuk papier te skryf [besonderhede hieronder]. Ons wil graag besighede en skole vra om deel te neem en dan ‘n foto te neem en dit te versprei op sosiale media,” het sy gesê.

Indien iemand belangstel om aan hierdie veldtog deel te neem, kan die volgende as ‘n templaat gebruik word:

• Hydrocephalus awareness all the way from (Company Name) as well as (Town, Province or Country)
• 20 September 2024
• #DamianVanAarde
• #YourFightIsMyFight

As iemand wil bydra tot Damian se herstel, besoek sy BackaBuddy-blad Damian Medical bills.

Related Articles

Back to top button