Municipal

Inwoners erg bekommerd oor gevaarlike kruising

Talle inwoners is erg bekommerd oor hul veiligheid weens die gebrek aan stoptekens and straatligte by 'n Kocksoord-kruising.

Inwoners van Kocksoord is vreeslik bekommerd oor die gevaar wat die gebrek aan stop- en padtekens kan hê by ‘n berugte kruising in Kocksoord.

Inwoner Andries Potgieter het sy bekommernisse met die Randfontein Herald gedeel oor die kruising van Main- en Steynstraat. Volgens Potgieter is die stopstrate se verf onduidelik en daar is ‘n gebrek aan stoptekens asook die afwesigheid van straatligte.

Nog ‘n bekommernis vir Potgieter is die talle trokke wat daar ry sonder om te stop.

“Ons gebruik gereeld hierdie pad. Ek was ook op baie ongelukstonele gewees. Hoeveel mense gaan moet sterf voordat iets gedoen word? Gaan die munisipaliteit eers ‘n lelike eis moet kry voordat hul besluit om die situasie aan te pak?” het Potgieter gevra.

Hy sal graag wil hê dat die munisipaliteit hobbels, stoptekens asook straatligte op die pad inwerk. Verder doen hy ‘n beroep op die gemeenskap.

“Hou jou oë oop en konsentreer op die pad. Wees altyd versigtig,” het hy gesê.

Die Herald het ‘n smous, Maria Ubisse by die kruising genader.

“Mense stop net eenvoudig nie by hierdie kruising nie. Nie te lank terug was daar ‘n botsing en ‘n baba is uit die kar se venster geslinger. Meeste kere ry die karre so vinnig dat daar nie ‘n kans vir hulle is om betyds te kan stop om ‘n ongeluk te verhoed nie,” het sy vertel.

Die Herald het Christine Lessing gekontak wat in hierdie botsing betrokke was.

Lessing het vertel dat op 10 Mei was sy, haar verloofde en driejarige seuntjie op pad winkel toe. Nadat Lessing by die die stopstraat gestop het om seker te maak dat sy die kruising kan oorgaan, het sy ‘n rumoer van toeters gehoor. Voordat sy kon besef wat gebeur het, het ‘n jagende motoris met haar gebots.

“Met die besef van wat gebeur het, het ek onmiddellik agtergekom my seun is nie meer in die kar nie. My seun was in sy stoeltjie, maar met die impak is hy onder sy veiligheidsgordel teen ‘n ander motor se voorruit gegooi en beland toe op die sypaadjie.

“Ek het histeries uit die kar gespring en hom op die sypaadjie gekry waar daar klaar ‘n dame was wie hom kalm gehou het,” het Lessing verduidelik.

Volgens haar het die motoris teen haar regter agterwiel gebots wat veroorsaak het dat haar kar in die rondte gedraai. Die kar het voor aankomende verkeer finaal tot ‘n stilstand gekom.

Lessing het vertel dat haar seun gelukkig net ‘n snywond op sy kop opgedoen het asook ander sny- en kneeswonde op sy liggaam. Volgens Lessing het haar seun drie dae in die hospitaal deurgebring waarna hul kon bevestig dat daar geen ernstige skade was nie.

Lessing se skouer het uitgehak tydens die botsing en haar verloofde het gebroke ribbes opgedoen. Nou bekommer sy haar oor die skoolkinders wat daagliks die kruising gebruik.

“Dit probleme van dié pad kom al jare. Indien die verf duideliker was en daar stoptekens was, sou daar nie so baie botsings gewees het nie. Hoeveel onskuldige kinders se lewens is in gevaar weens die pad wat nie voldoen aan die regulasies nie?” het sy gevra.

Terwyl die inwoners bekommerd was oor die gebrek aan straatligte en stoptekens, het sommige dit in hul eie hande geneem om die pad te verf. Op 13 Julie het vyf vrywilligers besluit dat hul die lyne meer sigbaar gaan maak. Die taak is wel nog nie voltooi nie.

Die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit was genader vir kommentaar, maar het tot dusver nog geen terugvoering aangebied nie. ‘n Opvolg sal gedoen word wanneer die munisipaliteit terugvoering lewer.

Related Articles

Back to top button