MunicipalUpdate

AfriForum sit skouer aan die wiel vir lopende water in Venterspos

AfriForum se Westonaria-tak het die besluit geneem om gebarste pype te herstel nadat inwoners vir meer as twee weke sonder water gesit het.

Inwoners van Venterspos het weer toegang tot watertoevoer nadat AfriForum se Westonaria-tak ingegryp het.

Venterspos-inwoners moes Kersfees en Nuwejaar vier met leë krane nadat hul vir meer as twee weke sonder water moes verduur. Rand Water het die watertoevoer afgesny weens die lae waterdruk in ander opgaardamme en die watertoevoer is ná Kersfees herstel, alhoewel Venterspos inwoners se krane steeds leeg geloop het. Volgens AfriForum se mediaskakelbeampte, Chanté Kelder het inwoners steeds nie water gehad nie weens ’n 60m-lange pyp wat gesteel was. Daarna het die Rand West City Local Municipality die pyp vervang maar die verkeerde klampe gebruik.

‘n Openbare kennisgewing vanaf die munisipaliteit het bevestig dat daar twee gebarste pype was. Die eerste gebarste pyp was in Creanstraat geleë, terwyl die tweede een by die kruising van Fowler- en Bridgesstraat was. Die kennisgewing het ook beklemtoon dat daar wel ‘n watertenkwa aangewys was wat water aan die gemeenskap verskaf het.

• Lees ook: Venterspos: From a water crisis to power outages

“Ons betreur enige ongerief wat moontlik deur die situasie veroorsaak is en vra om verskoning daarvoor,” het munisipale woordvoerder, Phillip Montshiwa gesê.

Kelder het verder vertel dat AfriForum dus die besluit geneem het om toestemming te kry sodat hul self herstelwerk kan doen. Na ‘n vergadering wat op 3 Januarie plaas gevind het, het die munisipaliteit ingestem dat AfriForum kan help met die waterkrisis.

Die AfriForum-tak het met behulp van Pro-Electrical Wholesalers and Contractors die herstelwerk binne een dag voltooi en die inwoners van Venterspos het teen 5 Januarie weer lopende water gehad.

• Lees ook: Bottels vol liefde vir Venterspos-inwoners tydens waterkrisis

“Ongelukkig het swak instandhouding en diefstal daartoe gelei dat groot dele van Westonaria steeds waterverwante uitdagings moet trotseer en Rand West City bly nie voor met al die waterprobleme nie,” het Esther Swart gesê, voorsitter van AfriForum se Westonaria-tak.

“Dit was goed om te sien hoe vinnig die gemeenskap kon mobiliseer om hierdie probleem op te los. Dit is nou belangriker as ooit dat gemeenskappe bereid moet wees om verantwoordelikheid te neem en hulle omgewings in stand te hou,” het Swart bygevoeg.

Woordvoerder van die burgemeester, Tshidiso Tlharipe het verklaar dat die munisipaliteit graag sal wil deel vorm van so egte verhouding met burgerlike bewegings. Verder het Tlharipe vertel dat die munisipaliteit verhouding wil skep wat sterk onderlê sal word deur hul belangstelling van gemeenskapsontwikkeling.

“As die munisipaliteit, waar ons misluk, moedig ons burgerlike bewegings aan om fakkeldraers van gemeenskapstem te wees, maar hulle moet nie hul hulp as ‘n vorm van politieke puntetelling gebruik nie,” het Tlharipe afgesluit.

Related Articles

Back to top button