Local news

Van Niekerk-paartjie steeds dolverlief na 70 jaar

Die paartjie het oor die jare van Randfontein na Vereeniging na Kaapstad verhuis en weer terug Johannesburg toe getrek.

Kan jy jouself indink om vir 70 jaar getroud te wees? Wel, Ernie en Renee van Niekerk kan en het op 10 Oktober hul 70ste huweliksherdenking gevier.

Die paartjie is in 1953 getroud nadat Renee en Ernie (toe 17 en 20 onderskeidelik) by ‘n partytjie ontmoet het. Ernie is in Krugersdorp gebore en het sy laerskooljare ook hier voltooi. Renee is in Pretoria gebore, maar was in die tegniese hoërskool in Krugersdorp. Die paartjie het drie jaar lank uitgegaan voordat hulle verloof geraak het. Hulle bly al die afgelope 20 jaar in Noordheuwel waar hulle afgetree het in ‘n veiligheidskompleks.

Ernie, nou 94 en Renee, nou 91 het drie kinders, Gerhard (67), Adéle (63) en Karel (57).

Dan spog hulle ook met 10 kleinkinders en ses agterkleinkinders waarvan die oudste 40 is en die jongste maar net 17 maande.

Ernie en Rene van Niekerk saam met hul gesin. Foto verskaf.

Renee vertel dat sy nog alles van hul troudag kan onthou.

“Dit was ‘n sprokie. Die onthaal was in die Robertsonsaal in Randfontein. Ek het ‘n pragtige ‘going away’ uitrusting aangehad, maar die kant trourok was ook uitsonderlik!”

Sy het vandag steeds haar trourok en egte sykouse.

Ernie was ‘n onderwyser by die tegniese hoërskool in Randfontein en het ingenieurswese gestudeer en by die EPOL-groep aangesluit. Hy het daar sy loopbaan voltooi. Die paartjie het oor die jare van Randfontein na Vereeniging na Kaapstad verhuis en weer terug Johannesburg toe getrek.

Renee het by ‘n malery gewerk as ‘n boekhouer voordat hulle getroud is en tot hul eersteling gebore is en daarna was sy ‘n tuisteskepper terwyl die kinders grootgeword het. Later, toe hulle terugtrek Johannesburg toe, het sy as boekhouer by ‘n ingenieursfirma in Chamdor gewerk.

Ernie en Renee van Niekerk.

Beide van hulle was baie sportief en het baie tennis in hul jonger dae gespeel. Ernie was self ‘n kranige gholfspeler en het tot onlangs nog balle gaan slaan. Hy het ook muurbal gespeel en staproetes gedoen. Die paartjie het albei klavier gespeel en jaarliks vakansies in hul karavaan geniet.

Die twee is nog baie aktief en het stokperdjies wat hul besig hou. Ernie het ‘n klein groente- en blommetuin aan die gang en het tot onlangs nog houtwerk gedoen en artikels herstel.

Adéle du Toit, hul dogter, het vertel dat hulle naby ‘n dam woon en dit geniet om na die voëls te kyk. Renee is ‘n regte tuisteskepper en is lief daarvoor om blomme te rangskik, naaldwerk en borduurwerk te doen, te brei, kos te maak asook konfyt te kook.

“Sy is jarelange lid, asook die oudste lid by die Transvaal Vroue Landbou Unie waar sy ook baie kompetisies gewen het,” het Adéle vertel.
Die paartjie se geheim vir ‘n lang huwelik is om baie lief vir mekaar te wees. Albei van hulle kyk ook mooi na mekaar.

Hulle hou steeds elke dag hande vas en gesels nogsteeds so lekker soos die eerste dag. Na al die jare het hulle steeds net oë vir mekaar.

Op 10 Oktober het hulle, asook hul naaste familie, middagete by ‘n plaaslike restaurant geniet om die groot dag te vier.

“Kyk mooi na mekaar. Pas mekaar op en wees lief vir mekaar. Maak tyd vir mekaar. Dien die Here,” is die paartjie se raad aan pasgetroudes.

Related Articles

Back to top button