Local newsSport

Dis Teine teen Khosa vir titel-glorie

Dis buurman teen buurman wanneer Randfontein Rugbyklub en Khosa se eerstes mekaar vir titel-glorie vanmiddag (26 Augustus) aanpak.

Terwyl Randfontein Rugbyklub se eerste span op koers is om sy titel te behou, is daar nog net een span wat in hul pad staan – sy buurman Khosa.

Die twee rugbyreuse van die Wes-Rand pak mekaar vandag, 26 Augustus, in die Greenhills Stadion vir nie net die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) se Senior Groot Uitdaag-reeks titel nie, maar die Wes-Rand wisseltrofee ook.

Die twee klubs het mekaar reeds twee keer vanjaar die stryd aangesê waarvan Randfontein aan die wenkant was in albei kragmetings. Die eerste was ‘n naelbyt 22–15 sege gevolg deur ‘n 24–14 oorwinning.

Randfontein het hul plek in die eindstryd bespreek deur Diggers van Randburg met 67–40 kaf te draf terwyl Khosa effens bietjie harder moes werk om 45–39 met Germiston Simmer af te reken.

Ten spyte van hul twee loesings teen Randfontein vroeër vanjaar, het Khosa verder baie goed gevaar en kan hulle nie ligtelik opgeneem word nie.

Uit die 14 ligawedstryde het Khosa 10 gewen wat groot oorwinnings van 76–0 teen Kagiso Sting, 98–10 teen die Jaguars, 78–0 teen Union Bulldogs en 90–0 teen Harlequins insluit. Hul twee ander loesings was teen Germiston Simmer (26–18 en 29–59 onderskeidelik) maar die Krugersdorp-klub het beslis gewen toe dit in die halfeindstryd saak maak.

Met sy eerste span in die finaal glo Khosa se klubvoorsitter, Pieter de Villiers, dat enigiets in ‘n finaal kan gebeur.

“’n Finaal is maar ‘n gelykmaker. Randfontein is ‘n gedugte teenstaander en Khosa teen Randfontein-ontmoetings is maar altyd ‘n titaniese stryd soos die uitslae oor die laaste twee jaar bewys het. Dit gaan beslis nie anders wees kom Saterdag nie. Ek voel Khosa peak op die regte tyd en enige iets kan gebeur in ‘n finaal.”

Oor hul kanse het Randfontein Rugbyklub se direkteur van rugby, Hennie van Eck gesê, “Ons as ‘n klub is baie positief en glo dat ons die beker kan verdedig. Ons voel ons het die liga gedomineer en die manne het verskriklik hard gewerk om te kom waar hulle is maar, die bal is nie rond nie en enigiets kan gebeur op die dag.”

Behalwe dat Teine se eerste span in die finaal gaan speel sal hul o21’s, derdes en tweedes ook in aksie wees – teen Germiston Simmer.

Aan die gemeenskap het Van Eck gevra dat die publiek die stadion groen verf.

“Ons spelers speel hul harte uit elke week en doen wat ons kan om Randfontein se naam hoog te hou. Ons vra asseblief die publiek om uit te kom in groot getalle en ondersteun die manne. Dit is regtig lekker as die pawiljoen vol is en almal is bankvas agter jou.”

Bepalings:

• Van 08:00 tot 13:00 – Junior-rugby (van o7)
• 13:00 – o21’s Tuine teen Germiston Simmer
• 13:00 – Derde span Teine teen Germiston Simmer
• 14:30 – Tweede span Tuine teen Germiston Simmer
• 16:15 – Eerste span Teine teen Khosa

Related Articles

Back to top button