Local newsSport

Teine-trekker ploeg voort; op koers om titel te verdedig

Randfontein Rugbyklub se eerste span is op koers om hul GLRU-titel in die Senior Groot Uitdaag-reeks voor sy tuisskare op 26 Augustus te verdedig.

Kan enigiemand die Teine-rugbymasjien stuit?

Dit is ‘n vraag wat bitter moeilik is om te beantwoord nadat al Randfontein Rugbyklub se spanne hul plek in die eindstryd van die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) se Senior Groot Uitdaag-reeks bespreek het wat op 26 Augustus plaasvind.

Itu Mpete, Teine se eerste span vleuel het 24 drieë agter sy naam die seisoen. Foto: MintaMarxPhotography

Die goeie nuus kom nadat al Randfontein Rugbyklub se spanne gemaklik aan die wenkant was in die halfeindstryd teen Diggers van Randburg die afgelope naweek. Die o21’s het vyf keer agter die opponent se doellyn gaan kuier vir hul spog-oorwinning van 30–5 terwyl die tweede span ook vyf keer gaan druk het vir ‘n wegholsege van 46–13. Die derde span kwalifiseer reeds automaties aangesien hulle bo die liga geëindig het. Verder het Randfontein se vrouespan op die dag met 17–5 teen Phoenix, ook van Randburg, geseëvier.

Wat Teine se eerste span aanbetref het hulle vir Diggers op ‘n drafstap met 67–40 geklop. Die telling sou boonop groter gewees het aangesien Teine met slegs ses doelskoppe kon slaag uit die 11 drieë wat hulle gedruk het.

Tiaan Nel probeer ‘n verdediger afstamp. Foto: MintaMarxPhotography

Volgens ‘n trotse Randfontein Rugbyklub se direkteur van rugby, Hennie van Eck, was die Teine eerste span se voorspelers die groot verskil op die dag.

“Die ouens het weereens net gejel. Ons het voor gedomineer en veral ons skrums was baie goed. Ons het nog nie ‘n span gekry wat ons kon hou of uitdaag in daardie afdeling/ aspek van die spel nie. Dit is beslis ons grootste wapen,” het Van Eck gesê.

Maar wat is ‘n sterk pak voorspelers sonder ‘n giftige agterlyn wat moet afrond? Die vertonings deur sekere Teine-agterspelers spreek omtrent boekdele as mens in ag neem dat die vleuel, Itu Mpete, al 24 drieë agter sy naam het die seisoen. Die heelagter, Janco Tiedt, is ook witwarm en spog met meer as 200 punte die seisoen.

Dit gaan keer kos! Johan Swart storm af op ‘n verdediger. Foto: MintaMarxPhotography

Die o21’s, derde- en tweede span pak dus eerskomende Saterdag vir Germiston Simmer in die eindstryd terwyl Teine se eerste span en hul buurman van Krugersdorp, Khosa, koppe sal stamp in die groot finaal. Op die spel vir die eerste spanne is twee trofeë naamlik die GLRU Senior Groot Uitdaag-reeks titel en Wes-Rand wisseltrofee.

Rudi Marx op die aanval. Foto: MintaMarxPhotography

“Ons is verskriklik bly. Dit is min dat al ‘n klub se spanne in die finaal speel. Dit is ‘n bewyse hoe sterk en op watse goeie plek ons werklik is. Die spelers en afrigters het regtig harde werk ingesit en dit het duidelik vrugte afgewerp. Verlede jaar was daar groot hartseer toe ons derdes en tweedes uitgeval het maar hulle sal dinge wil regstel hierdie naweek.”

Christoff Kleyn storm voort met bal in hand. Foto: MintaMarxPhotography

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button