Sport

Teine-rugby wys Harlequins wie’s baas

Randfontein Rugbyklub se eerste en tweede spanne spog met oortuigende oorwinnings van 101–0 en 81–0 onderskeidelik oor Harlequins.

Dit het omtrent drieë gereën toe Randfontein Rugbyklub sy buurman Harlequins van Krugersdorp by die House of Pain op 22 Julie verwelkom het.

Wat die eerste span aanbetref het Teine 15 keer gaan druk vir ‘n wegholoorwinning van 101–0 met flank Justin Meintjies en vleuel Michael Tolmay wat elkeen met drie drieë gespog het. Verder het die heelagter Janco Tiedt 23 punte aangeteken. Teine se tweedes het ook gemaklik en op ‘n drafstap 81–0 geseëvier met die uitblinker-vleuel Dylan Viviers wat vier keer agter die opponent se doellyn gaan kuier het. Hy spog tot dusver in die seisoen met 28 drieë.

Vir Harlequins was dit beslis ‘n rugbywedstryd wat hulle gou sal wil vergeet.

Tiaan Nel. Foto: Billy Sass

Randfontein Rugbyklub se direkteur van rugby, Hennie van Eck was vol lof vir Teine en die manier hoe hulle gedomineer het. Harlequins is wel eers in die begin van die jaar opgeskuif na die Senior Groot Uitdaagreeks en Hennie het nie doekies omgedraai deur te sê dat Harlequins in ‘n boufase is nie. Teine is natuurlik meer afgerond, ervare en gevestig is.

Boeta Piater hardloop volstoom met die bal in hand met spanmaat Wessel van Staden net agter hom. Foto: Billy Sass.

Oor die seisoen het Hennie bevestig dat al vier Teine se klubspanne naamlik die eerste, tweede, derde en o21 spanne bo-op die punteleer is. Randfontein se eerste span het ook 11 van hul 12 liga-kragmetings tot dusver gewen (en een gelykop gespeel) en is hul nie net die verdedigende Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) se Senior Groot Uitdaag-reeks kampioen nie maar ook die Klub Uitdaagreeks-kampioene wat hul vroëer ingepalm het.

Trevor Chauke. Foto: Billy Sass.

Ten spyte van al hul sukses, het Hennie gesê die klub mik nog hoër.

“Ons het tans ‘n geseënde jaar en dinge is gesond by die klub. Daar is baie jong spelers wat deurkom en hope talent tot ons beskikking. Die uitslae staaf dit. Daar is ook ‘n ongelooflike lekker gees by die klub.

Errard Ernsting. Foto: Billy Sass.

“Ek dink wel ek praat namens almal dat ons graag in die top-liga, naamlik die Pirates Groot Uitdaag-reeks, wil kompeteer in 2024. Alles kom met tyd, so ons werk hard.”

Teine se volgende kragmeting is weg van die huis af teen Diggers op 5 Augustus. Dit is ook Randfontein se tweede laaste ligawedstryd vir die jaar. Hul volgende tuiswedstryd is natuurlik die semifinaal op 19 Augustus met die eindstryd die week daarna.

“Ons sal nooit nee sê vir ekstra ondersteuning nie en ons wil graag Randfontein vra om ons te kom ondersteun. Bring die vrou, familie en kinders saam. Dit is altyd lekker om voor ‘n groot skare te speel.”

Related Articles

Back to top button