BRIEF: Ons gesels verder dedda

Dogter skryf opvolg-brief aan haar oorlede pa en praat oor die kragsituasie, mense wat sukkel en die lewe.

• Karien Dippenaar skryf:

Ek het help teeskink met ‘n roudiens vandag. Bekendes en vreemdelinge saam in die yskoue saal. Ons het weer gery met warm klere vir mense wat buite in die koue slaap. Ja, ek dink dit is baie moeilik om wanneer jy koud kry en jy is buite in die wind en weer, om warm te raak, hoe slaap jy? Dan is jy nog honger ook. Ek meen maar net, hier waar ek sit en tik wil my voete in kouse en skoene begin vries. Ons het mense raakgeloop wat sop en brood ook uitdeel. Daar was ook vroue wat ons hulle “kaartjies” gewys het van ‘n ander kerk wat hulle nooi om Sondag,12 uur sop te geniet met die uitsien na ‘n warm stort en soos die dame praat hare was en doen … Dit was voor ons sonder water in die krane opgestaan het.

Soos dedda weet is daar darem die plotte met boorgate. Eskom met al hulle probleme wou die son keer maar ons dien ook ‘n Hemelse Vader wat altyd in beheer is. Water was toe nie nog een van ons baie probleme nie.

• Lees ook: BRIEF: Aan dedda … Ons mis jou verskriklik

Gelukkig was die Maandag nie potblou nie. Net effens koud maar die blomme voor in die kerk was baie mooi met goudgeel rose en as enigiemand my sou vra klein sonneblommetjies. Sy was deel van ons omgeegroep. Sy was ‘n buurvrou. Sy was ‘n ma en ouma. Kanker het hierdie persoon se lewe kortgeknip. Ons het baie vrae sonder antwoorde want in dieselfde familie is daar ander ook met kanker wat lank al daarmee saam lewe. Daar is soveel hartseer en net as mens jouself wil oorgee hoor jy God se stem, “Ek het jou by jou naam geroep…”

Connies is nie vergeet nie. Daar was mense wat klere en komberse geskenk het. Natuurlik het daar toe weereens iets vasgesteek in my te besige gedagtes. Ons het net gedink aan waar sal hulle slaap en wat sal hulle aantrek. Die besef dat al hulle persoonlike items ook vernietig is het my getref. Sommige van hulle het nie familie nie. Foto’s, fone … dalk ‘n Bybel wat vir hulle kosbaar was is nou weg.

Goed wat onvervangbaar is. Goed wat net hulle s’n was. Ja, ons moet nie opgaar nie, maar as ek dink aan al dedda se blikkies en bottels. Soveel mense het bygedra tot dedda se versameling. Dedda het ook by die Connies ‘n kruiwa gewen met ‘n Bingo-aand. Ek gaan julle mis daar hierdie jaar. Ons moet net eers weer kerk toe vir ‘n begrafnis. Ek wonder of Vrydag ‘n beter dag is as Maandag. Ja, Maandag is die begin van die week en Vrydag die begin van die naweek. Baie gaan nie na die diens terug werk toe nie. Soms word dit ‘n kuier waaroor daar gepraat is en nou? Nou is daar tyd. Ook is daar familie wat nie naby bly nie. Familie wat mekaar lanklaas gesien het. Wie weet wanneer sien hulle mekaar weer? Dalk ‘n kombuistee, troue of ooievaar … dalk ‘n roudiens. Nou moet ek eers my bingo-kaartjie gaan haal.

Ons sal weer gesels dedda …

Related Articles

Back to top button