Entertainment

Randfontein se Hollywood-ster op toer

Die Neil Sandilands en Band Wintertoer: Kaap tot Mpumalanga is op pad!

Neil Sandilands en sy band bring instrumente, blikke, baarde en sakke vol truuks na ’n opstal landswyd van 1 Julie tot 25 Julie vanjaar.

Hierdie ryk, anderwêreldse vertoning bied van die mees begaafde musici wat ons pragtige land in aanbod het, en met die onkonvensionele, rasperige, aweregse Neil Sandilands, oorspronklik van Randfontein, aan’t stuur van sake, is jy in vir ’n ding!

Neil Sandilands se wintertoer is binnekort in volle swang.

Neil toer hierdie winter noordwaarts, vanaf die Overstrand, al die pad tot in Mpumalanga en Limpopo. Die ander skerpskutter-musikante op die wavrag is die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert, die kitaarspeler van OppieStoep-faam, Frank Freeman en Ronan Skillen op perkussie. Hy slaan enige ding, van ’n crankshaft tot ’n Indiese tabla en als tussenin.

Neil is deesdae orals. Ons onthou hom natuurlik meestal as “Bart” van 7de Laan, maar die man het selfs Hollywood op sy manier gaan aandurf, en ’n uitklophou gepot. Sweet Tooth seisoen 2 tans op Netflix, waar hy die rol van die booswig “General Douglas Abbott” vertolk, is nog vars in die geheue en daarbenewens het hy sommer sy tweede vollengte album Allegaarkie vir ’n Askeet uitgereik.

Neil Sandilands se wintertoer is binnekort in volle swang.

Snitte soos Huistoe, Stilte wat Raas en Kômmôsêdiesê speel oor die luggolwe en moenie van die wonderlike liedjie Woestynroos vergeet, wat hy vir die uitmuntende M-Net-reeks, Desert Rose, geskryf het nie. Dis als deel van hierdie uitvoering.

Sy vorige toer, “Woorde en Akkoorde na die Noorde”, het gehore gaande gehad en Afrikaanssprekendes wyd-en-suid het gevra vir nog. Hier is die geleentheid nou!

Dié boksemdais bestaan uit werke vanaf al Sandilands se albums. Hy deel tussenin stories en kwinkslae uit sy lewensverhaal, wat begin het langs die mynhope van Randfontein, gaan draai het in ver plekke soos die eiland Kauai, Nieu-Seeland, New York, Vancouver, Sunset Boulevard, die Namibwoestyn, Namakwaland en ja, sommer nou daar by jou ook. Hierdie toer word deel van sy storie.

Vra maar vir enigiemand wat al een van dié besonderse vertonings beleef het; dis soos daai tweede koppie sawwelyf. Dit maak inderdaad die lewe ’n bietjie meer draaglik. ’n Mens beleef die hele spektrum van emosies by een so ’n vertoning en voel ietwat ryker vir die belewenis.

Dis presies wat die dokter aanbeveel vir juis hierdie winter van beurtkrag, kranksinnigheid en allerhande aapstreke. Sien jou daar, by Neil Sandilands se Wintertoer! Kaap tot Mpumalanga. Vatvas!

Kliek hier https://linktr.ee/neilsandilands vir meer besonderhede.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button