Schools

RAM-adjunkhoof groet na 42 jaar in onderwys

Diane Matthews was vir 10 jaar adjunkhoof by Laerskool Randfontein.

Laerskool Randfontein het onlangs van hul adjunkhoof Diane Matthews afskeid geneem.

Diane was vir 10 jaar ‘n adjunkhoof by die skool en is op 1 Julie 2013 aangestel.

“Ek was opgewonde om ‘n groot bydrae in die akademiese en sportgebied te maak. Ongelukkig in 2015 het daar ‘n struikelblok op my pad gekom en ek kon nie meer sport afrig nie.”

Sy het verduidelik dat sy bevoorreg was dat die Here vir haar nuwe deure oopgemaak het. Sy het die skool se pom-pom groep oorgeneem wat jaar na jaar met rasse skrede vooruitgegaan het.

Ram Extreme het in 2018 en 2019 die pom-pom kompetisie by die Randfontein Skou gewen en ook deur die jare talle ander kompetisies gewen en baie pryse ingepalm. In Julie 2022 is Ram Extreme as die nasionale wenners gekroon.

“Ek gaan die dansgroepe geweldig mis!”

Sy het ook ‘n paar suksesvolle Mnr en Mej Rammie kompetisies aangebied saam met Reinette Herbst en Sanrie Nell.

“Die RAM familie is ‘n hegte familie. Ek is bevoorreg om deel van die familie te kon wees. Nog nooit het ek ‘n groep mense gesien wat so goed kan saamwerk en soveel ondersteuning aan mekaar gee nie. Dankie aan Leon Haupt, die bestuur, personeel en leerders vir 10 wonderlike jare.”

Sy het vertel na 42 jaar groet sy die onderwys en sien daarna uit om ouma te wees.

Onderwyser Reinette Hebst het die volgende geskryf:

“Aan die eenkant is hierdie so groot voorreg om hierdie boodskap te gee en aan die anderkant is dit sekerlik die moeilikste ding wat ek al ooit moes doen. Geen woorde sal ooit goed genoeg wees nie. Hoe groet ‘n mens iemand wat sulke diep, ongelooflike spore agterlaat by die Rammie-familie?

“Juffrou Diane, die Here het jou mooi gemaak. Hy’t jou baie, baie mooi gemaak. Juffrou is ‘n ware hartsmens, pragtig van binne en buite. ‘n Raakvatter wat haar doelwitte najaag en weet wat sy soek in die lewe.

“Juffrou raak bly saam ander as hulle deur goeie tye gaan en huil ook saam as mens hartseer is. Juffrou het altyd ‘n woordjie van bemoediging as mens dit nodig het. Vandag voel dit wraggies of ‘n stukkie van my hart hier weggaan, maar ons gun hierdie vir juffrou. Ek en só baie ander het so lief geword vir juffrou.

“Om te sê juffrou gaan gemis word is ‘n understatement. Vandag wil ek hê juffrou moet onthou dat aftrede nie die einde van ‘n pad is nie, maar die begin van ‘n splinternuwe reis. Gaan geniet elke oomblik saam Mark en die kinders en natuurlik daardie kleine lyfie wat oppad is. Gelukkig weet ons you don’t do things halfway. Ons sal juffrou nog sien by Ram Extreme en Mej Rammie. My gebed is dat die Here juffrou sal seën in elke tree wat juffrou gee.”

Related Articles

Back to top button