Local news

Warm bakkie sop vir die yskoue winter

Hul beoog om twee keer 'n maand sop uit te deel voor hul winkel in Uniestraat, Randgate.

Multi Charity Randfontein wil vanjaar verskeie inwoners van die gemeenskap help met die yskoue winter wat oppad is.

Een van die eienaars, Monica Lancellas, het verduidelik dat hulle beplan om gereeld vir die minderbevoorregte gemeenskap sop uit te deel voor hul winkel in Uniestraat, Randgate.

“Ons het dit nog nooit gedoen nie. Ons het al in die verlede self kos gemaak en gaan uitdeel maar nou wil ons dit voor die winkel doen. Ons het wel die publiek se hulp nodig. Daar is ‘n behoefte, ons sien dit soos wat die mense in die winkel kom en sê hulle kry koud. Baie mense voel dalk te skaam om te vra vir iets om te eet. Hulle sal dankbaar wees vir die warm bakkie sop.”

Volgens Monica wil hulle so twee keer ‘n maand vier of vyf potte sop maak en bakkies uitdeel, en ook ‘n paar snye brood saam die sop.

“Dit is nie net vir die minderbevoorregte mense nie maar ook vir die wat sukkel en net ‘n bakkie sop wil hê.”

Hulle wil graag dit alles uitdeel in Junie, Julie en Augustus.

“Ek wil dit graag warm vir die mense gee, so as iemand bereid is om ‘n pot sop te maak maar hul het nie die bestandele nie dan is ons bereid om dit te verskaf. Maar dit moet alles bekostigbaar wees.”

Sy het verduidelik dat hul die gemeenskap se hulp benodig om die sop te maak, of selfs iemand wat ‘n gasbottel kan leen sodat die sop warm gehou kan word terwyl dit uitgedeel word.

As jy ‘n skenking wil maak vir Monica se projek, skakel haar op 072 813 0192.

Related Articles

Back to top button