Local news

Rus sag, Chantale

'Sy was baie sterk en het die kanker baklei tot die einde toe' – broer van oorlede Chantale Lloyd wat onlangs haar stryd teen kanker op die ouderdom van 40 verloor het.

Die harte van talle gemeenskapslede asook motorfietsryers is stukkend na die afsterwe van Chantale Lloyd.

Die 40-jarige Chantale is op Vrydag, 6 Januarie oorlede weens ‘n gewas in haar nek wat die bloedtoevoer na haar brein onderdruk het.

Haar broer Christiaan Lloyd en Naughty By Nature-motorfietsklub se visepresident het die hartseer nuus aan die Herald bevestig.

Lees ook: KYK: Motorfietryers staan saam vir Chantale

In Mei 2021 was Die Windpomp Pub & Grill volgepak met motorfietsryers wat die Chantale’s Fight Against Cancer-fondsinsameling ondersteun het. Volgens Riëtte Venter, sekretaris van die Naughty By Nature-motorfietsklub het hulle saam met die I Dare You Foundation die funksie aangebied om fondse in te samel om die koste van Chantale se kankerbehandeling te help dek. Baie van die motorfietsryers het ook geld geskenk sodat hul hare afgesny kon word en hulle hul ondersteuning vir Chantale kon wys.

Lees ook: Big effort to raise awareness on breast cancer in Mohlakeng

Christiaan het verduidelik dat alles ongeveer sewe jaar terug begin het toe sy geliefde suster met borskanker gediagnoseer is.

“Al twee haar borste moes afgesit en oorgebou word. Die kanker het van daar af oral versprei en gewasse het opgeduik.”

Hy het vertel dat sy sussie in November verlede jaar huis toe gestuur is nadat dokters ongelukkig niks meer vir haar kon doen nie. Drie maande daarna is sy oorlede.

“Ek sal my sussie altyd onthou as nederig en vriendelik. Sy het altyd gelag en gesê dat dit goed gaan met haar.”

Volgens Christiaan het Chantale se twee dogters haar baie gelukkig gemaak en sy was baie lief daarvoor om tyd saam met familie en vriende te spandeer.

“Sy was baie sterk en het die kanker baklei tot die einde toe … sy het gesê sy wou so graag haar dogters sien groot word en trou. Sy het soveel pyn en seer gehad maar altyd gesê dit gaan goed.”

Alhoewel Chantale nie meer saam haar geliefdes is nie, is haar pyn en seer nou weg. Sy laat agter twee dogters, twee broers en uitgebreide familie.

Die Herald stuur hul innige simpatie vir die familie in hierdie moeilike tyd.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button