High SchoolInternationalLocal sportPrimary SchoolSport

Boogskietklub hou R’fontein se naam hoog

Die dorp se plaaslike boogskietklub, Klub Inyathi, spog met talle prestasies in 2022.

Klub Inyathi, die dorp se plaaslike boogskietklub, het inderdaad ‘n uitstaande jaar agter die rug.

Die klub bestaan uit ongeveer 30 volwasse skuts met verskeie skole naamlik Hoërskool Riebeeckrand, Laerskool Randfontein en Hoërskool Jan Viljoen wat onder hul vlag funksioneer.

Woordvoerder van die klub, Annie Nolan het vertel dat tydens vanjaar se seisoen het die klublede so breed uitgebrei dat daar tans twee spanne in die klub is.

“Die een span het hul staal gewys en tydens die provinsiale kompetisies in Augustus met goud weggestap teen ses ander spanne. Die span het ook aan die Interprovinsiale Boogskietkompetisie in die Paarl, gedurende Oktober, ‘n eerste plek verwerf wat ‘n ongelooflike prestasie is.”

Sy het verder vertel dat ses van die skuts ook opgeneem is in die volwasse Provinsiale Boogskietspan waar hulle ‘n eerste plek in Suid-Afrika behaal het teen sewe ander provinsies.

Andre Esterhuizen, Jurgens Bekker en Maria Bekker is opgeneem in die Suid-Afrikaanse Boogskietspan en hulle gaan tydens Desember aan ‘n internasionale kompetisie deelneem teen Kanada, Namibië, Botswana en Zimbabwe. Nog ‘n klublid, Annie Nolan, is die spanbestuurder van die SA-span en ook een van die vier hoofbeamptes tydens die kompetisie.

“Hierdie besonderse skuts is op Saterdag, 19 November tydens ‘n pragtige provinsiale seremonie gelukgewens met hul prestasies. Andre Esterhuizen is aangewys as die beste manskut en Jurgens Bekker as die tweede beste manskut in die Gauteng-streek. Maria Bekker het ook die titel as tweede beste vrouskut van 2023 verwerf.”

Klub Inyathi spog ook met Frik Birkenstock wat die President van AGA-SA is. Frik is een van die persone wat boogskiet in die VSA “gaan haal” het en dit na SA gebring. Hy werk alreeds vir die laaste 14 jaar om boogskiet te bevorder in SA. Frik is van Maandag tot Donderdae by die skietbaan, besig om skuts te leer en af te rig.

Indien jy belangstel om deel te word van die dinamiese sport, is jy welkom om enige middag by die skietbaan op te daag of om Frik te kontak op 082 871 0834.

Jurgens Bekker, Andre Esterhuizen en Frik Birkenstock. Foto ingestuur.

Related Articles

Back to top button