Local newsLocal sportSport

‘n Man van staal sal hy bly!

Manuel (Manny) Rodrigues wat vir sewe jaar die Randfontein Rugbyklub se eerstespan-kaptein was, hang sy tokse op.

‘n Man met ‘n liefde vir rugby, wat altyd sy alles gegee het op die rugbyveld maak nie saak wat die omstandighede is nie, hang na sewe jaar sy tokse op.

Die 38-jarige eerstespan-kaptein van Teine, Manuel (Manny) Rodrigues, wat met die nommer 7-trui uitgedraf het, was ‘n yster op, maar ook van die veld af.

Klublede het hom beskryf as ‘n staatmaker wie entosiasies is en net altyd sy span en klub na nuwe hoogtes dra.

Manuel (Manny) Rodrigues hang na sewe jaar sy tokse op.

Volgens Manny het hy besluit om sy tokse op te hang omdat dit vir hom tyd was, en omdat daar soveel jong talent by die klub is.

“Mens moet weet wanneer om op te hou en baie spelers sit met daardie probleem, selfs beroepspelers. Ek het die trui op ‘n beter plek gelos as wat ek hom gekry het en ek is tevrede met my loopbaan alhoewel ek bitter hartseer is om totsiens te sê.”

Vir hom is die beste herinneringe toe hulle vanjaar as die Senior Groot Uitdaagreeks-kampioene gekroon is en die Castle Bowl terug te wen.

“Daar is so baie wat ek gaan mis, die goeie oomblikke op die veld, die tye in die kleedkamer en die kameraadskap. My grootste prestasie is die eer wat ek gehad het om die klub se kaptein te kon wees.”

Manny het verduidelik dat sy twee seuns altyd sy grootste inspirasies bly en natuurlik sy pa wat sy grootste motiveerder was.

“Eerstens, baie dankie vir die gemeenskap se ondersteuning, dit was lekker om op ‘n Saterdag te kon uit draf op die House of Pain met ‘n vol pawiljoen. Dankie aan die klub wat my die geleentheid gegee het, my gevorm het en in my geglo het, en elke afrigter wat ‘n hand gehad het in my loopbaan. Baie dankie Teine.”

Klubbestuurder Lulu Kleyn het vertel dat sy nie vir Manny baie lank geken het nie … so vier jaar om presies te wees, maar vertel dat hy ‘n man van sy woord en vol integriteit is.

“Hy behandel almal met die nodige respek en is altyd ‘n ware gentleman. Sy humeur is kort, maar dit kom goed te pas op die rugbyveld. Ons wens Manny alle voorspoed en vreugde toe vir die toekoms, ons sal hom graag wil sien betrokke raak met afrigting, sodat hy al sy kennis aan ons jonger manne kan leer en oordra.”

“Manny was vir my soos Brock in Facing The Giants gewees, hy was ons steunpillaar, ons yster, ons verskil in die span. Hy het met positiwiteit die manne bymekaar gebring. Hy was ons masjien en hartklop toe dit moeilik was by die klub, hy het heeltyd by ons gebly,” het Johan Cronje, voorsitter van die Randfontein Rugbyklub gesê.

Related Articles

Back to top button