Connies Karnaval terug na twee jaar
Benewens hul bingogeleentheid is die karnaval een van die sentrum se grootste fondsinsamelingsfunksies.
Daar was sonskynweer, smullekker kos en glimlagte tydens die Connie Mulder Sentrum se Karnaval in Wilbotsdal. Talle Randfonteiners het op Saterdag, 1 Oktober die dag by die sentrum geniet.
Dit was weer hoog tyd dat die bekende karnaval aangebied word nadat die pandemie twee jaar lank ‘n stokkie daarvoor gesteek het. Benewens hul bingogeleentheid is die karnaval een van die sentrum se grootste fondsinsamelingsfunksies.
Daar was so ‘n groot verskeidenheid om te geniet – potjiekos, smaaklike pannekoeke, Yankees, vars gebakte items, heerlike roomys en talle ander stalletjies en musiek.
Fransie Hulme, die hoof uitvoerende beampte se persoonlike assistent het vertel dat dit uiteindelik ‘n voldag se pret was wat eers omstreeks 16:00 tot ‘n einde gekom het.
“Dit was baie lekker en almal het dit baie geniet. Die kinders was ook baie bly dat die karnaval weer plaasgevind het,” het sy vertel.