Schools

Riebeeckrand hou aangrypende kunsuitstalling

Die leerders het die geleentheid gehad om hul pragkunswerke uit te stal sodat ander mense hul harde werk kon sien.

Daar was besonderse kunswerke te sien tydens Hoërskool Riebeeckrand se jaarlikse kunsuitstalling wat talle se harte aangegryp het.

Kunsonderwyser Melindi Jacobs het vertel die uitstalling op Dinsdag, 27 September was ‘n geleentheid waar die kunsleerders hul kunswerke kon uitstal en hulle familie en vriende nooi om daarna te kom kyk.

“Dit word gehou om vir die visuele kunste-leerders ‘n bietjie erkenning te gee vir hul harde werk. Ongelukkig was daar in die laaste ongeveer drie jaar nie ‘n uitstalling nie weens Covid, maar noudat Covid rustiger is en mense weer bymekaar kan kom kan ons dit weer ‘n groot geleentheid maak waar mense van die omgewing die talent en potensiaal van elke leerder kan raaksien, en sodat die leerders die erkenning kan kry wat hulle verdien.”

Die skool se graad 10 tot 12 visuele kunste-leerders en studente van Melindi se kunsskool (Aesthete kunsskool) het al hul kunswerke tydens die spogaand uitgestal.

In die middel van die vertrek was daar ‘n boom waar elkeen ‘n masker gehang het soos hulle ingaan. Die doel van die boom was om ‘n interaktiewe geleentheid vir almal wat die kunsuitstalling bygewoon het te skep om ‘n klein bydrae tot ‘n beeldhouwerk te maak.

“Die simboliek is dat ons ons maskers ophang en kan voortgaan met ‘n meer ‘normale’ lewe waar ons weer dinge kan doen wat ons vroeërjare gedoen het. Dit is simbolies van transformasie. Die boom was aanvanklik sonder die maskers, maar die mense het die boom binne twee uur in iets besonders verander.”

Sy het vertel dat dit ‘n baie suksesvolle aand was en dat ‘n groot aantal mense opgedaag het. Die leerders het dit so geniet om weer na soveel jare hulle kunswerke ordentlik te kon uitstal en vir almal te wys wat hulle kan doen.

“Hulle het deur die loop van die jaar vreeslik hard gewerk om hul kunswerke by hierdie geleentheid te kan uitstal, en ek is verskriklik trots op elke liewe een van hulle.”

Elke graad het hul eie tema gehad waarvolgens hulle hul kunswerke moes skep. Die graad 12’s s’n was “The door” en “Movies”; die graad 11’s s’n was “Enchant everyday life” en “Liedjies”; en die graad 10’s het die temas “Travel” en “Quotes” gekry.

Mediums soos olieverf, akrielverf, houtskool, waterverf, potlood, pen en nog vele meer is gebruik om die meesterstukke te skep.

 

 

Related Articles

Back to top button