Opinion

BRIEF: Rommelstrooiing, verkragting en rooftogte: Wanneer hou al die dinge op?

Toekies-inwoner oor traak-my-nie-agtige inwoners wat steeds vullis strooi terwyl ander mense beroof en verkrag word.

• Desmond Dickson skryf:

In goedhartigheid het Brenda Christians tot haar bittere spyt ‘n deurgang na die begraafplaas by die rioolkontrolekamer in Diamantstraat voorsien ter wille van begrafnisgangers.

Die deurgang is nou met rommel besaai en bemoeilik werksaamhede van die munisipale tegnici. Deurganggebruikers het hulle hier al stukkend geval. Mnr Desmond ‘Walla’ Afrika wat reg oorkant die chaos woon het met ‘n uitstekende idee vorendag gekom: Kan die stadsraad nie die gebied opruim en in ‘n parkeerterrein vir taxi’s omskep aangesien dit ook ‘n vername oplaaipunt is vir pendelaars en dorpbesoekers nie?

Die ‘stortingsterrein’ hou ook ‘n ernstige brandgevaar in vir omliggende inwoners en die munisipaliteit self.

Menige mens sidder by die gedagte van ‘n onverskillige roker wat dalk ‘n onuitgedoofde sigaretstompie of vuurhoutjie kan laat val. Dis die een ding, en die vraag ontstaan: waarom strooi traak-my-nie-agtige inwoners steeds vullis hier aangesien die erg verrineweerde Vygiestraat se rommel ook hier opeindig en die dreinering geblokkeer het.

Nog ‘n ding is dat kleptomaniake niksvermoedende deurgangers snags kan beroof en weerlose vroue verkrag. Die ander ding is dat Brenda nie haar agterhek kan sluit nie aangesien dit toegang tot haar naburige familie vergemaklik.

Wanneer hou al die dinge op?

Related Articles

Back to top button