Local sportSport

Teine slag Union, kwalifiseer vir halfeindstryd

Randfontein Rugbyklub het 'n waarskuwing gerig aan sy opponente in die uitklopreeks van die Senior Groot Uitdaagkompetisie op 4 Junie na 'n wegholoorwinning van 89–12 oor Union.

Randfontein Rugbyklub (Teine) het die afgelope naweek hul stempel afgedruk deur al hul wedstryde teen Union Rugbyklub te wen.

Die wedstryde het op Saterdag, 28 Mei by die Greenhills Sportstadion, oftewel die House of Pain plaasgevind.

Direkteur van Rugby Hennie van Eck het dit ‘n one-way highway genoem want al hul spanne het vêr gewen.

Klubbestuurder Lulu Kleyn het vertel dat dit die klub se laaste groepligawedstryde in die Senior Groot Uitdaagbekerkompetisie was. Teine het dus reeds gekwalifiseer vir die halfeindrondte en kom op Saterdag, 4 Junie teen Diggers te staan.

Dit is ‘n baie goeie prestasie. Ons juniorspan het nie een wedstyd in die liga verloor nie en dit is ‘n besondere prestasie vir hulle,” het Hennie bygevoeg.

Ockert Stoltz gee die bal uit vir Werner Mclean. Foto: Michelle Roodt.

Die uitslae Randfontein teen Union:

• o.20: Randfontein 66–0 Union
• Derdes: Randfontein 28–0 Union
• Tweedes: Randfontein 56–0 Union
• Eerstes: Randfontein 89–12 Union

Hennie het vertel dat die halfeindwedstryde Saterdag ongeveer 13:00 begin, en dat die eerstespanwedstryd om nagenoeg 16:15 afskop.

“Ons vra die gemeenskap van Randfontein om die klub te kom ondersteun want ons het dit nodig. Dit is lekker as die pawiljoene vol is, en die gemeenskap sal nie spyt wees nie. Dit gaan baie opwindend wees en almal is welkom om die dag saam met ons te kom geniet.”

Manny Rodrigues behou besit van die bal. Foto: Michelle Roodt.

Hy het ook verduidelik dat as Teine Saterdag wen, sal hulle ook die naweek daarna die gasheer vir die eindstryd wees omdat hulle bo aan die punteleer geëindig het.

Ons bedank graag elke speler, afrigter, spanbestuurder en alle ander betrokkendes vir al die ondersteuning tydens die liga want sonder spelers is die klub net ‘n leë dop. Ons doen ‘n beroep op ons jeug om nou by die klub aan te sluit en te help bou aan die toekoms van die klub,” het Lulu vertel.

Mojalefa Jafta word deur ‘n Union-speler gestuit. Foto: Michelle Roodt.

Related Articles

Back to top button