Local newsNews

Dissipline in die klaskamer en tuis: Wie is nou eintlik verantwoordelik?

Dissipline is deesdae ‘n probleem in ons skole en na twee jaar van ontwrigte onderrig, blyk dit nou selfs meer van ‘n uitdaging te wees.

Die gebrek aan dissipline in ons skole is nie iets nuut nie. Byna daagliks hoor of lees ‘n mens van insidente – sommige uiters gewelddadig – en staan jou hare regop by die blote gedagte daaraan.

Diegene van ons wat op skool was toe die onderwyser se woord wet was en jy maar liewer jou huiswerk gedoen het en nie teruggepraat het nie, sluk moeilik aan wat deesdae in klaskamers gebeur.

Ja, dinge het verander. Lyfstraf is afgeskaf en dit is reg so, want ongelukkig het talle onderwysers en skoolhoofde deur die jare hierdie “reg om lyfstraf uit te deel” misbruik en is leerders onnodig verneder. Tog bly die gebrek aan dissipline in ons skole ‘n groot probleem en lei dit tot groot ontwrigting en emosionele skade. In party skole is dit asof die leerders (en dikwels die ouers) die onderwysers gyselaar hou en trek die medeleerders wat wil leer en die onderwysers aan die kortste end.

Dissipline begin tuis

Skoolhoofde en onderwysers sit maar gereeld hande in die hare om dissipline te handhaaf. Talle ouers gaan van die standpunt uit dat dit die skool en onderwysers se taak is om die leerders te dissiplineer, maar die skole voel anders hieroor.

Die bekende opvoedkundige sielkundige en navorser en dalk nog beter bekend as die “shack-builder”, Quinton Adams, het ongeveer vyf jaar gelede werkwinkels aangebied waarin hy juis oor dissipline by die huis gepraat het.

Ouers moet eers hulle huise in orde kry voordat die skole in orde gekry moet word,” het Quinton gesê.

Die sewe boustene vir dissipline

Quinton noem sewe boustene vir dissipline: kommunikasie, respek, reëls in die huis, gesag, verantwoordelikheidsin, onderskeid tussen reg en verkeerd, en omgee. Volgens Adams is dit die kinders se ingesteldheid wat positief verander moet word. Daarom sê hy dan ook tereg:

Julle kan nie met julle ou kennis ‘n nuwe generasie skep nie.”

Kortom, wat voorheen gewerk het om dissipline te handhaaf, gaan nie noodwendig nou werk nie. Ons moet uit die boks dink, ons kennis verbreed en onsself bemagtig.

Ouers-sonder-grense en bedorwe brokkies

Wendy Sloane en Kim van Reizig skryf in ‘n artikel dat die verskynsel van bedorwe brokkies baie stres vir ouers veroorsaak, maar dat Britse navorsers “die vinger reguit wys na die huidige geslag liberale ouers-sonder-grense en dat hulle nie genoeg ferm ‘liefde’ (tough love) toepas nie”.

In ‘n impakstudie van ouerstyle het die Londense navorsingsorganisasie, Demos, die lewe van 9 000 gesinne oor ‘n tydperk van agt jaar gevolg. “Hul gevolgtrekking: Die ferm liefde-manier – ‘n kombinasie van warmte en dissipline – speel ‘n veel groter rol as ouers se inkomste of sosiale agtergrond in ‘n kind se sukses en vermoë om empatie, vasberadenheid en selfbeheersing te leer.”

Naomi van Wyk, ‘n kliniese sielkundige van Stellenbosch wat spesialiseer in ouerbegeleiding, sê in dieselfde artikel dat ouers gebombardeer word met soveel teenstrydige raad oor hoe om dissipline te handhaaf, dat hulle later voel dat hulle nie meer weet wat reg of verkeerd is nie en dan ook dikwels skuldig voel. Omdat ouers ook dikwels albei werk, is die kinders dikwels op hulle eie en verloor party ouers so beheer oor hulle kinders se gedrag.

“Outoritêre ouerskapstyl werk nie vir my nie!”

Dan is daar ook ouers wat nie dieselfde “foute” as hulle ouers wil maak nie. Hulle het dalk in die era grootgeword waar kinders gesien, maar nie gehoor is nie en respek teenoor grootmense ononderhandelbaar was. Hierdie outoritêre ouerskapstyl is nie vir hulle ideaal nie en daarom doen hulle amper die teenoorgestelde. Hulle kinders word toegelaat om hulle “woede uit te druk en eise te stel, en die kinders word ook die middelpunt van die gesinslewe gemaak”.

Maar hoe pas ‘n mens so ‘n ferm liefde-plan toe?

Hier is so ‘n paar algemene riglyne uit bogaande artikel:

• Hoekom is jou kind “stout”?  Is hy bloot honger of moeg? Is hy dalk ongelukkig by die skool, jaloers op die nuwe baba? Probeer agter die kap van die byl kom en praat met jou kind.
• Reëls: moenie uitsonderings maak nie – Reëls is reëls as jy jou kind se gedragspatrone wil verander. Dit leer jou kind die verskil tussen reg en verkeerd, en leer hom die regte waardes. Maar gebruik jou diskresie en verslap gerus hier en daar ‘n reël oor naweke of tydens skoolvakansies.
• Positiewe ouerskap – “Dit is baie meer doeltreffend om goeie gedrag te prys as om swak gedrag te kritiseer.”
• Wees spesifiek – Sê duidelik wat dit is wat jou kind verkeerd doen en hoe jy wil hê hy dit moet regstel. Moenie net sê: “Gaan maak jou kamer aan die kant nie”. Sê liewer: “Pak asseblief jou speelgoed in die boks en sit jou sandale terug in die kas”.
• Wees ‘n rolmodel – Jou gedrag moet weerspieël hoe jy wil hê jou kind hom moet gedra.
• Konsekwentheid – Hou by jou plan en demonstreer die regte gedrag deur jou eie optrede.
• Maak tyd vir jou kind – ‘n Kind wat voel dat hy nie aandag kry nie, of nie na geluister word nie, kan probeer aandag kry deur negatiewe gedrag.
• Huistakies kweek verantwoordelikheid – Kinders voel deel van die gesin as hulle huistakies verrig.

Die hoofredes vir swak dissipline

Volgens Karin Lambrechts, self ‘n onderwyser, kan swak dissipline hoofsaaklik aan die volgende toegeskryf word:

• Waardesisteme waarbinne ouers/ gemeenskap funksioneer
• Omstandighede wat ‘n impak het op leerders se drome, visie en werksetiek
• Die nagevolge van die afgelope twee jaar se gefragmenteerde skoolgaan

Die rimpeleffek van Covid-19 op die onderwys

Karin sê, “Die rimpeleffek wat die pandemie op die onderwys gehad het, glo ek sal nog lank gevoel word. Bo en behalwe die feit dat daar wel akademiese agterstande opgebou het, ervaar ons ‘n interessante verskynsel: Leerders (veral die Graad 8’s) baklei verskriklik. Dit is asof leerders wat twee jaar lank meestal tuis moes bly, se sosiale vaardighede skipbreuk gely het. Die kinders het nie filters nie en sê enige iets vir mekaar wat dan dadelik die etiket van ‘boeliery’ ontvang. Ouers is ook gou om ons in te lig dat leerders geboelie word. Sommige gevalle het meriete, maar andersins is dit werklik ‘n gebrek aan die hantering van die gewone emosionele ‘lesse’ wat met die grootwordproses geleer word.”

Sit die volgende in plek vir dissipline in die klas:

• Ken jou vakgebied en wees voorbereid.
• Leer so vinnig moontlik jou leerders/ registerklas ken (al is dit net met kort gesprekke aan die begin van die jaar waar hulle hulself voorstel), want as jy hulle ken, kan jy hulle beter verstaan en begelei. Jy sal leerders dan as individue hanteer, waardeer en erken.
• Jy is in beheer van jou klas. Sorg dus dat die leeromgewing reg is (netheid, banke, atmosfeer).
• Verstaan die mag van taal (ek dink daar het ons taalonderwysers dalk ‘n voorsprong), want daar is ‘n fyn balans tussen beheer neem en gee. As jy leerders ruimte gee, moet jy weer daardie beheer kan terugneem. Moet dus nie SIT of SKREE nie.
• Hê as opvoeder balans in jou eie lewe deur na jou eie geestesgesondheid te kyk of betyds hulp te vra.

Ten slotte

Dissipline en die toepassing daarvan is dus nie so eenvoudig nie en is ook nie net bloot “gehoorsaamheid aan gesag” nie. Dit behels samewerking tussen die ouers en die onderwyser/ skool, maar ook die leerders, konsekwente optrede, die aanleer van waardes soos selfrespek, respek vir ander, eerlikheid en om ander met empatie te behandel. Dit is om anders te dink oor straf uitdeel en om ‘n holistiese benadering te volg om uiteindelik negatiewe gedragspatrone permanent te verander en op dié manier ons kinders te help om gerespekteerde volwassenes te word. Om soos Karin sê elke dag as ‘n geleentheid te sien om “op ‘n nuwe, skoon bladsy ‘n storie saam met jou leerders te skryf”.

Lees die volledige artikel op Afrikaans.com

• Bron: Afrikaans.com

Related Articles

Back to top button