NewsSchools

Matriekuitslae getuig van deursettingsvermoë en veerkragtigheid – FEDSAS

'Om die werklike omvang van hierdie prestasie te begryp, moet in gedagte gehou word dat hierdie leerders se laaste twee skooljare groot uitdagings gestel het' – Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) rakende die matriekuitslae.

Dít is die mense wat Suid-Afrika nodig het.

Só sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame (FEDSAS), in reaksie op die bekendmaking van die matriekuitslae. Teen alle verwagtinge in is daar ʼn geringe toename in die slaagsyfer van die matriekklas van 2021.

Het jy nog nie jou matriek uitslae gekry nie. Klik hier om te sien hoe jy jou uitslae vandag reguit na jou foon kan kry. 

Persentasiegewys is die toename gering, maar dít wat dit verteenwoordig, is allermins gering. Hier is ʼn groep mense – leerders en onderwysers – wat ten spyte van twee jaar van ernstige ontwrigting daarin kon slaag om steeds te verbeter op vorige prestasies.”

Deacon sê om die werklike omvang van hierdie prestasie te begryp, moet in gedagte gehou word dat hierdie leerders se laaste twee skooljare groot uitdagings gestel het.

“Dan moet ons nie vergeet van die emosionele trauma van siekte en sterftes, werksverliese, armoede en ander uitdagings wat die pandemie meegebring het nie. Die veerkragtigheid van hierdie groep matrieks is merkwaardig. En veerkragtigheid – daardie unieke vermoë om terug te bons ná enige terugslag – is een van die belangrikste vaardighede wat sukses bepaal.”

Die onderwysers verdien ook om saam met hierdie matrieks geluk gewens te word.

Hierdie toegewyde onderwysers het dieselfde uitdagings as die leerders gehad. Die fisieke en emosionele uitdagings van die pandemie is ook ʼn werklikheid vir hulle. Tog het hulle uit hul pad gegaan en ekstra werk, tyd en moeite ingesit om seker te maak die leerders kan hul skoolloopbane voltooi.”

Deacon sê leerders en opvoeders van onafhanklike skole verdien ook gelukwensinge.

“Die matriekuitslae van leerders in openbare en onafhanklike skole is vanjaar werklik ʼn ligpunt in ʼn donker tyd. Daar sal altyd werk wees om die onderwyssektor te verbeter, maar wat hierdie uitslae betref, het alle betrokkenes ʼn onderskeiding gekry vir karakter en deursettingsvermoë.

Sonder ondersteunende skoolgemeenskappe kan skole nie voortbestaan nie. En sonder skole is daar vir ons land geen toekoms nie. Ons moet hierdie matriekuitslae dus vier vir wat dit is: ʼn baken van hoop.”

*FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2 000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.

Related Articles

Back to top button