NewsSchools

Steeds op haar pos na 40 jaar

Laetitia Botha werk al sedert 1981 by Hoërskool Jan Viljoen.

“Jan Viljoen is my trots.”

So spog Laetitia Botha, 69, wat al vir 40 jaar ‘n administratiewe assistent by Hoërskool Jan Viljoen is.

Sy werk sedert Januarie 1981 by skool en het al onder die leiding van vyf hoofde gewerk.

“My man het in Randfontein werk gekry en ek het vir die skoolraad in Klerksdorp gewerk. Ek het die skole geskakel en gevra of daar nie ‘n pos oop was nie. Ek het met meneer Geldenhuys gepraat wat die hoof was in daardie stadium hy het vir my vertel daar was ‘n pos oop en hy was bereid om my te neem. Toe ek vra of ek vir ‘n onderhoud moes kom, was sy antwoord nee, hy vat my net soos ek is, soos ‘n blind date. Nou ja, my blind date gaan nou nog aan,” het sy vertel.

Vir Laetitia is Jannas alles. Of sy goeie of slegte tye beleef het, die skool was altyd daar vir haar en het haar altyd gehelp. Sy het gesê dat sy altyd positiewe bemarking vir Jannas doen.

“As ek hartseer is kan ek hier kom en myself weer vind; Jan Viljoen is my tweede lewe. Ek vat elke aand werk huis toe en werk daaraan, want my werk is my trots en alles moet reg en op datum wees.”

Sy het gesê dat sy dit nie sal oorleef by die huis as sy nie by Jannas kan werk nie, aangesien hulle ‘n gehegte familie by Jan Viljoen is.

“Tannie Laetitia is na 40 jaar nog steeds passievol oor ons skool en haar werk. Sy is soggens die eerste persoon by die skool en die laaste een om huis toe te gaan. Sy is die gom wat ons skool aanmekaar hou,” het Chris-Juan Ras, adjunkhoof by Hoërskool Jan Viljoen gesê.

Related Articles

Back to top button