Opinion

Gee ‘n kind die pinkie dan gryp hy die hele arm

Moenie vir 'n kind die pinkie gee nie, want dan gryp hy die hele arm …

• Die redakteur skryf:

Ek het onlangs so lekker vir my vierjarige seuntjie gelag.

Ek dog ek doen ‘n goeie ouer-ding en bring vir hom ‘n advertensie van ‘n groot kinderwinkel se voorraad wat in die feestyd beskikbaar sal wees.

Ek sê vir hom: ‘Seun, dadda het hierdie boekie vir jou gebring. Kyk waarvan jy hou en omkring dit sodat ek en mamma dit vir Kersvader kan gee.’

‘Maar onthou’, sê ek vir hom, ‘jy moet al jou kos eet en soet wees. Anders bring hy vir jou niks nie.’

‘Oukei dadda,’ sê hy.

My woorde was skaars koud toe is hy vrekstout, maar dis nie waaroor ek wil praat nie.

Ek en mamma gee vir hom ‘n lekker dik koukiepen en los toe die mannetjie sodat hy sy ding kon doen.

Na ‘n ruk kom hy aangehardloop met die boekie en sê, ‘Dadda, ek het die toys gemerk’.

Ek maak die boekie oop en wragtig! Die kind het al wat ‘n speelding en item is omkring – van ‘n 30 Seconds-bordspeletjie, beddegoed en LEGO City-passasiersvliegtuig tot ‘n Bluetooth-luidspreker en ‘n hommeltuig.

Wat leer jy as ouer hieruit? Moenie vir ‘n kind die pinkie gee nie, want dan gryp hy die hele arm …

Related Articles

Back to top button