Local newsNews

R’fontein-vrou, 62, se joga-advies vir die Wes-Rand

Sybil Viljoen van Bootha-plotte vertel ons meer oor joga.

Sybil Viljoen, 62, is ‘n joga-instrukteur wat sedert 2004 klasse aanbied. Sy het vertel dat joga ‘n veelsydige, aanpasbare stel oefeninge is wat byna almal kan doen, ongeag hul ouderdom of fisiese toestand.

“Daar word dikwels toerusting soos stoele, blokke en bande gebruik om die persoon se posisie en belyning in ‘n oefening te verbeter,” het sy vertel.

“Joga verbeter die soepelheid en werkbaarheid van al die spiere, ligamente en gewrigte.”

Volgens Sybil kweek gereelde joga-oefeninge ‘n bewustheid van waartoe mens fisies in staat is, en verbeter jou psigiese toestand. Dit help mens om daaglikse take beter uit te voer asook om spanning te verwerk.

Sy het vertel dat alhoewel die oefeninge fisies van aard is, het dit ook ‘n invloed op die chemiese balans in die brein. Dit verbeter ‘n mens se gemoedstoestand en laat jou gelukkiger en kalmer voel. “Die gekontroleerde asemhaling help om emosies en angs te beheer.

“Joga word gesien as oefeninge wat ‘n vernuwing in jou liggaam kan bring. Wanneer die strekke, draaie en buigings gereeld geoefen word, herstel die persoon se stamina, krag en balans, en dit bevorder bloedsirkulasie,” het sy vertel.

Sy het genoem dat spesifieke oefeninge byvoorbeeld pyn in die skouers, nek en rug verlig.

“Joga is wonderlik, want jy kan die basiese oefeninge self tuis doen,” het sy gesê.

Sybil het vertel dat die meeste tipes joga wat in die Weste beoefen word, geklassifiseer word as Hatha Yoga, en dat daar verskeie soorte style in hierdie klassifikasie is.

1. Ashtanga is ‘n dinamiese vorm van joga waar oefeninge aanmekaar vloei.

2. Iyengar-joga fokus op presiesheid van oefeninge, verbetering van postuur asook spesifieke gesondheidsprobleme.

3. Kundalini-yoga fokus meer op die spirituele kant van joga, byvoorbeeld meditasie.

4. Vini-joga fokus op een tot een, gewoonlik met ‘n spesifieke doel.

5. Bikram-joga is ‘n styl van ‘warm’ joga waar 24 posisies uitgevoer word in kamer waarin die temperatuur tussen 36 en 42°C is. Die persoon moet egter medies daarvoor geskik wees.

6. Sivananda-joga is ‘n vorm van joga waar beperkte oefeninge gedoen word. Dit is ‘n mengsel van fisiese oefeninge en die spirituele aspekte van joga.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button