Local newsNews

Afsonderingstyd: Hoe ‘n joernalis dit ervaar

'Jou familie is altyd daar vir ondersteuning'.

Ons land is vir langer as twee weke in ‘n afsonderingstyd en as daar een ding is wat ek geleer het, is dat mens jouself met soveel positiwiteit as moontlik moet omring.

Die eerste twee weke voel soos ‘n ewigheid en mens se roetine is glad nie meer soos jy daaraan gewoond was nie. Jy verlang na almal wat gereeld rondom jou was, en jy is onseker oor wanneer alles weer sal kan terugkeer na normaal.

Veral tyd is vir my deurmekaar – mens vergeet soms watter dag dit is en selfs hoe laat dit is. Dit laat my besef wat mense bedoel as hulle sê hulle ly aan kajuitkoors.

Een aspek wat positiwiteit bring is familie. ‘n Mens se familie is altyd daar om op staat te maak en jou te ondersteun. Randfontein, onthou dat jou familie altyd daar is vir jou. Al kommunikeer julle dalk nie elke dag nie, kan jy weet dat jy hulle kan skakel as jy alleen en moedeloos voel.

Lees ook:

WATCH: Make your own disposable face masks with your Randfontein Herald newspaper

As jy gelukkig is en moontlik nog by jou ouer(s) bly, hoekom gebruik jy nie hierdie tyd om met hulle te sit en gesels nie, sonder dat tegnologie jou aandag aflei? Haal verlore tyd in en gesels oor dinge waaroor julle vir ‘n lang ruk dalk nie gepraat het nie. Help jou ma in die kombuis, of werk saam met jou pa in die tuin.

Die rede hoekom ek al hierdie sê, is omdat daar ‘n dag gaan kom wanneer jy nie meer hul grappies gaan hoor, of hul glimlag gaan sien nie. Dit is tye soos hierdie wanneer ons almal saam onder een dak is wat ons in ons harte moet hou. Dit is nou die tyd om vir soveel moontlik goeie herinneringe saam met jou geliefdes te sorg.

Al is daar mense wat dink dat ons nooit hierdeur gaan kom nie, weet ek ons gaan. Ons sal eendag met trots kan terugkyk na een van die moeilikste tye in ons lewens wat ons saamgesnoer het, ook as ‘n gemeenskap.

Skryf aan ons by randfonteinherald@caxton.co.za en vertel vir ons hoe jy die eerste twee weke van afsondering ervaar het.

Related Articles

Back to top button