Local newsNews

Ollie die Singende Nar wil boere help

Hy wil die Woord verkondig, en is altyd gereed om te help waar hy kan.

Pieter Vorster, 41, beter bekend as Ollie die Singende Nar wat onlangs die Randfontein Skou besoek het, het besluit om Burre Burger van Droogtehulp SA te ondersteun.

Burre, 35, wat in Durbanville in die Wes-Kaap woon, was op die laaste dag van die Randfontein Skou – Sondag, 8 Maart – die gasspreker. Hy het juis oor die projek gepraat en sy hartroerende storie met die gemeenskap gedeel om hoop vir boere in nood te bring. Hy het ook vertel hoe hy jare gelede (voor die projek) sy eie lewe wou neem maar dat daar ‘n groter doel vir hom in die lewe was.

Hy het vertel dat daar tans tussen 400 en 800 boere regoor Suid-Afrika is wat dringend hulp nodig het met voer, kos, klere asook algemene produkte. Sedert 2017 het Burre en sy span al meer as R250 miljoen se waarde tot landbou toegevoeg. Daar is meer as 1 868 vragte voer en ander kos regoor SA afgelewer, en daar is skoolfondse en hospitaalkostes van oor die R3 miljoen dié jaar namens boere in nood betaal.

“Ons wil graag voor Kersfees 1 800 vragte voer afgelaai hê,” het hy gesê.

Pieter beplan om na die afsonderingstydperk van Johannesburg af Kaapstad toe op sy eenwielfiets te ry om geld in te samel vir die Droogtehulp-projek. Hy beplan om R1 per kilometer te vra waar hy die totale bedrag geld aan Burre Burger van die droogtehulp projek wil skenk.

Hy is ‘n inwoner van Pretoria en ook glo tans die enigste singende nar in Afrika.

Hoewel hy eers ‘n dieselwerktuigkundige wou word, het hy van plan verander toe hy en ‘n vriend ‘n sirkusvertoning in Potgietersrus bygewoon het.

“Ons het gesien hoe twee narre op ‘n eenwielfiets oor ‘n kabel gery het. Ek het voor gesit en was vreeslik opgewonde. Na die vertoning het ek vir my ouma gesê dat ek ‘n nar wou word. Ek het haar belowe dat ek almal sal vertel van Liewe Jesus, en net daar gee sy my die naam Ollie – dit is hoe ek begin het.

“Die boodskap wat ek wil oordra is dat mense moet weet dat aanhouers wen, dat mens nooit moet omgee nie. Jy kan wel nie altyd wen nie, maar jy moet partykeer verloor om sterker te raak sodat jy kan wen. Ek wil ook almal leer dat daar net een God is, Jesus Ons Koning, wat groter as magic is. Ek kan toertjies doen wat lyk soos magic, maar Hy het alles rondom ons gemaak, daarom moet ons weet dat as ons gehoorsaam is en jy jou drome vang, dan word jou drome waar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button