Local newsNews

’n Vars asem vir die feesseisoen

Met kantoorpartytjies, familiebyeenkomste en soene onder die mistel is dit die tyd van die jaar wanneer almal goed wil lyk, voel en ruik. Ironies genoeg is dit ook die tyd wanneer slegte asem kan toeslaan. Hier is advies ...

Dirna Grobbelaar, Ivohealth se raadgewer oor mondhigiëne, het kundige advies gegee oor hoe om hierdie feestyd jou asem vars te hou.

Dirna het gesê daar is baie redes waarom slegte asem dikwels in die aanloop tot die somervakansie voorkom, insluitend warmer weer, senuwees of opwinding rondom werk en sosiale geleenthede of eksamenuitslae, of dalk net ’n verandering in roetine, wat daartoe kan lei dat jy maaltye oorslaan of minder dikwels vloeistof drink.

“’n Droë mond is die ideale omgewing vir bakterieë wat slegte asem veroorsaak. Wanneer die temperatuur begin styg, is dit belangriker as ooit om baie vloeistowwe te drink om gehidreer te bly. Drink iets nog voor jy dors voel,” het Dirna gesê.

“Jou liggaam produseer elke dag sowat een liter speeksel. Om speekselvloei te stimuleer en jou mond ‘natuurlik’ skoon te maak, eet iets of kou suikervrye kougom. Dit sal help om die kosdeeltjies en bakterieë in die mond weg te spoel en slegte asem te voorkom. Veselryke voedsel, vrugte en groente is veral goed hiervoor.”

Volgens Dirna is alkohol ’n groot sondebok, want dit droog die mond uit en versteur die balans tussen “goeie” en “slegte” bakterieë in die mond.

“As jy wel die feestyd met ’n drankie of twee wil vier, wissel alkoholiese drankies met water of nie-alkoholiese drankies af om jou liggaam gehidreer te hou en die alkohol in jou mondvoering te verdun of uit te spoel,” het sy gesê.

Volgens Dirna, is goeie mondhigiëne regdeur die jaar belangrik en absoluut noodsaaklik tydens die feesseisoen vir die vertroue wat ’n vars asem meebring.

“Moenie in die versoeking kom om jou mondsorgroetine oor die vakansie te verwaarloos nie,” het Dirna gesê.

Sy het bygevoeg dat doeltreffende daaglikse mondsorg die hoeksteen van ’n vars asem en ’n gesonde mond en liggaam is.

“Dit sluit in om jou tande twee keer per dag, soggens en saans, twee minute lank korrek te borsel, selfs al is dit laat in die aand; om elke dag tussen jou tande skoon te maak met vlos om voedseldeeltjies en bakterieë te verwyder, asook om jou tong skoon te maak.”

Volgens Dirna is die vierde en finale stap om jou mond met ’n alkoholvrye mondspoelmiddel uit te spoel.

“Gebruik dit in die oggend of laaste ding in die aand, of om jou mond vinnig uit te spoel wanneer jy Kerspasteitjies of ander lekkernye eet,” sê Dirna.

Volgens Dirna is tyd saam met jou geliefdes dikwels die hoogtepunt van die vakansie. Moenie dat slegte asem veroorsaak dat jy op ’n afstand moet bly nie. Volg die paar basiese stappe hierbo en jou asem sal vars bly.

Related Articles

Back to top button