Local newsNews

Motorfietsklubs gee terug aan Ram, Rappies

Kersvader en sy yster-Rudolf het onlangs leerders van Laerskool Randfontein en Laerskool Rapportryer bederf.

Dit was ‘n vroeë Kersfees vir leerders van Laerskool Randfontein en Laerskool Rapportryer toe lede van verskeie motorfietsklubs die twee skole op Vrydag, 22 November met geskenke bederf het.

Dit was alles te danke aan die Naughty by Nature-, Nemo’s-, Ulysses- en Scream-motorfietsklub nadat talle geskenke tydens die Santa Run op 17 November aan hulle oorhandig is. Hulle het toe die minderbevoorregte leerders van Rappies en Ram as begunstigdes gekies.

Gert Krog, Andrè Kruger van Rappies en Piet Naude van Scream. Foto ingestuur.

Motorfietsklublede het op hul motorfietse by die skoolhekke aangekom en selfs Kersvader het op sy eie yster-Rudolph gery.

Toe Kersvader self tussen die leerders gaan sit het, het gille van opgewondenheid opgeklink. Selfs die onderwysers en die hoof het saam met Kersvader gekuier.

Kersvader groet die leerders van Ram.

Die leerders het boonop hul beste maniere ten toon gestel toe Kersvader hulle nooi om op die veld na die motorfietse te gaan kyk. Hulle oë het behoorlik gerek toe hulle die pragtige ysterperde van naby kon bekyk. Dit was werklik vir die leerders ‘n oggend om te onthou.

Al die betrokke klubs bedank ook graag die lede van die West Rand Bikers Association (WRBA) wat die skenking saam met ander individue en borge soos Lego’s moontlik gemaak het.

*Story updated — Ed.

Related Articles

Back to top button