Local newsNews

Tannie Rina Gibbs sê totsiens vir Randfontein

Geliefde Tannie Rina Gibbs sê vaarwel, na 65 jaar.

Tannie Rina Gibbs, ‘n bekende inwoner van Randfontein sê vaarwel.

Sy groet Randfontein om na haar kinders in die Kaap toe te gaan.

Tannie Rina is al 65 jaar lank ‘n inwoner van Randfontein. Sy en Johan Meyer was voorheen die Burgemeesterspaar van die dorp. Na Oom Johan se dood het Tannie Rina gaan werk om te sorg dat haar drie seuns behoorlike skool- en universiteitsopleiding kry.

Sy is later met Harry Gibbs getroud, en hulle het saam die inryteater in Randfontein besit.

Tot ‘n paar jaar gelede het sy drie maatskappye se kasboeke op datum gehou. Tannie Rina was ook lid van die Vroueklub, asook die Vroue Landbou-unie.

Tannie Rina het elke maand die seniors bo 60 van die NH Kerk Midpark genooi om by haar te gaan kuier, en koek en koffie te geniet. Sy het altyd al die eetgoed self gemaak vir haar groepie.

Tannie Rina is op 4 Januarie 1930 gebore, en was ‘n Hoërskool Brits-leerder.

Sy is lief vir die natuur, en om te lees en te brei, en wanneer sy kook maak sy genoeg kos vir die hele Egipte. Tannie Rina help ook graag oral waar sy kan. En sy is boonop heel behendig met WhatsApp.

Tannie Rina verhuis nou vir die 16de keer in haar lewe. Tevore was dit meestal in Randfontein, en sy hoop nou dat dit die laaste keer sal wees.

“Sy is ‘n voorbeeld vir ons almal. Daar is min mense wat soos Martha en Maria kan wees en soos die deugsame vrou in Spreuke lewe,” het Johannet Huyser, Tannie Rina se aanneemkind gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button