NewsSchools

Ram-leerders wys hul staal as dit by besigheid kom

Daar is gesê Ram gaan met trots ‘n hele paar besigheidsmanne en ovroue in die toekoms oplewer na afloop van hul entrepreneursdag.

Laerskool Randfontein se Graad 7-leerders het op Woensdag, 28 Augustus hul staal gewys as dit by besigheid kom.

Vir hul entrepreneursdag het die leerders ‘n produk en speletjie gekies, beplan, bemark en uitgevoer. Die projek word bestuur deur Hannes Muller, EBW-vakonderwyser en het hy die dag as ‘n reuse sukses beskou.

Volgens Annie Nolan, skoolwoordvoerder, vereis die Departement van Onderwys dat al die Graad 7-leerders ‘n entrepreneursmark hou aan die einde van die derde kwartaal, as deel van die vak EBW.

Tiane Taljaard ‘dunk’ vir Juffrou Taylor Badenhorst tydens die markdag.

“Die stalletjies het gesorg vir vermaak en genot vir oud en jonk en het die volgende ingesluit: smullekker kos, soettand lekkers en woelige speletjies. Daar was ook ‘Virtual Reality’ onder die skoolsaal en ‘n ‘dunk’ tenk waar die leerlinge ‘n onderwyser in die water kon gooi.

“Hierdie projek was nie net vir die broodnodige punte gedoen nie, maar natuurlik vir al die wins wat ingesamel is.

Rammies het vaardighede soos kommunikasie, bemarking, beplanning, begroting en bestuur baasgeraak. Na die afloop van die entrepreneursdag is al die nodige berekeninge gedoen en die winste het gestrek van R1 000 tot ‘n stewige R12 000.

Kaleb Stafleu, Ivan Pedro, Lanelle Britz en Charnel Smit met hul springmielieballe.

“Spanwerk is ook aangemoedig aangesien die Rammies die geleentheid gehad het om in groepe saam te werk. Die gees het hoog geloop en ouers, oumas, oupas, onderwysers en leerders het in die jolyt gedeel. Dit was vir almal duidelik dat die Graad 7-leerders by Rammies besonderse entrepreneurs is.

“Rammies gaan met trots ‘n hele paar besigheidsmanne en -vroue in die toekoms oplewer.”

Related Articles

Back to top button