Local newsNews

Haloooo Vleisfees!

Moenie die Vleisfees vandag vanaf 8vm in Elandsvlei misloop nie.

Die eerste Vleisfees ooit in Randfontein skop vandag (Saterdag, 3 Augustus) om 8vm af.

Volgens Appel Ernst, die fees se mediabestuurder, gaan die fees tot laat by die Tuinhekkie in Elandsvlei aanhou. Dit word aangebied deur die Hervormde Gemeente Sionspoort.

“Dit gaan ’n gesinsdag wees met vermaak vir oud en jonk, met ’n stewige dosis gesonde tradisie en kultuur,” het Appel gesê.

Kosie Beukes met sy konsertina sal ook optree. Lêerfoto.

Feesgangers kan uitsien na spesiale demonstrasies soos om ‘n koei te melk, botter te maak, sweep te slaan, skaap te skeer, seep te maak, vleis te verwerk, en volkspele en blommerangskikking te doen.

Besoekers kan onder andere ook deelneem aan skyfskiet, boogskiet, kettieskiet en boeresport. ’n Groot toutrekkompetisie word aangebied en spanne van agt lede word uitgenooi om deel te neem. Kinders word die hele dag in die kinderpark met pret en speletjies vermaak.

Die fees het ‘n vol vermaakprogram met kunstenaars soos Ampie, Anton Botha, Tanya V, Evert Swart, Kosie Beukes en die Ventertjies wat deur die loop van die dag optree.

Daar sal ’n groot verskeidenheid stalletjies met uitsoekprodukte op die terrein wees. Besoekers kan die vee-inligtingsessies bywoon en ook deur die veelotte stap en sien hoe vee vir die mark voorberei word.

Ampie is een van talle kunstenaars wat die dag optree. Lêerfoto.

Smulpape en ander fynproewers kan weglê aan heerlike disse soos pap-en-kaiings, skilpadjies, braaivleis, potjiekos, boereworsrolle (met die spesiale feeswors), varsgebakte plaasbrood, pannekoek, koeksisters, melktert en baie meer.

“’n Veteraanmotor-uitstalling is nog een van vele hoogtepunte. Daar is ’n spesiale kuierarea waar lafenis en goeie geselskap gevind kan word. En moenie die hoofoogmerk van die fees uit die oog verloor nie – vars, hoëgehalte vleisprodukte teen billike pryse. Kom vroeg en bly tot laat.”

Toegang is R20 per voertuig. Vir meer inligting, kontak 082 364 8576 of gaan lees meer oor die fees op die web by https://www.sionspoortvleis.org of op Facebook by SionspoortVleis.

Related Articles

Back to top button