NewsSchools

Honderde komberse vir behoeftiges

Hoërskool Riebeeckrand het gesorg dat 547 mense en diere in die gemeenskap 'n warm kombers vir die winter het.

Hoërskool Riebeeckrand het 547 komberse vir behoeftiges in die gemeenskap ingesamel.

Volgens Elzeri Wright, skoolwoordvoerder, het die skool in Mei ‘n kombersprojek geloods waaraan die hele skool deelgeneem het.

“Die drie leerders wat die beheerliggaamverteenwoordigers van die skool is, het met die inisiatief na vore gekom. Al die leerders van Riebeeckrand het die projek ondersteun en komberse skool toe gebring sodat minderbevoorregtes in die Randfontein-gemeenskap ‘n warm winterseisoen kon geniet.”

Elzeri het gesê dat die skool baie trots is op hul leerders wat op só ‘n mooi wyse uitreik na hul medemens.

“‘n Totaal van 547 komberse is ingesamel en so kon Riebeeckrand ‘n groot verskil in die gemeenskap maak. Komberse is eerstens na Riebeeckrand en hul buurskole versprei om te verseker dat elke leerder ‘n warm kombers vir die winter het. Daarna is die oorblywende komberse verdeel tussen behoeftige gesinne in die dorp, NG Welsyn, Randpoort Renaissance, Door of Hope, karwagte, die DBV en Cast Away Animal Sanctuary,” het Elzeri gesê.

Riebeeckrand het ook meer as 60 komberse aan Mev Afrika 2019, Reinette Herbst, oorhandig wat sy as deel van haar uitreikprojek aan behoeftiges kon uitdeel.

“Dit is voorwaar ‘n voorreg om ‘n verskil in ander se lewens te maak, en te weet dat ‘n groot deel van die gemeenskap in die koue nagte warm kan gaan slaap. Riebeeckrand bedank elke leerder wat ‘n bydrae gemaak het tot die kombersprojek –voluit vir Riebeeckrand.”

Related Articles

Back to top button