MunicipalNews

Elandsvlei-rioolplaas kry aandag

'Iets moes aan die saak gedoen word om te verhoed dat die rioolplaas nog verder verswak.'

Nuwe kontrakteurs is by die rioolplaas in die Elandsvlei-omgewing aangestel en die toestand van die fasiliteit het aansienlik verbeter.

So het Matiam van Vuuren, AfriForum Randfontein-takvoorsitter en Jan Lubbe, ondervoorsitter gesê.

“Nuwe ontwikkelings in die Greenhills-omgewing wat die dorp se rioolstelsel nog verder gaan verswak is onder AfriForum-hoofkantoor se aandag gebring. Die stand van sake by die rioolplaas in Randfontein het die afgelope paar jaar baie verswak en met die ekstra druk op die aanleg sou dinge baie vererger het.

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van wanbestuur. Die oortollige riool word sommer in die veld gestort omdat die rioolaanleg nie op standaard is nie,” het Matiam gesê.

Hulle het besef dat hulle self iets aan die saak moes doen om te verhoed dat die rioolplaas nog verder agteruitgaan.

Voordat die nuwe kontrakteurs op die rioolplaas begin werk het, is die oortollige riool sommer in die veld gestort omdat die rioolaanleg nie op peil was nie. Foto ingestuur.

Ná vele onsuksesvolle skrywes wat aan die einde van 2018 aan die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit gestuur is, het AfriForum vanjaar weer die saak aangepak en dié keer is die organisasie se prokureurs genader.

Daar is op 20 Maart bevestig dat kontrakteurs wel aangestel is wat reeds drie weke lank aan die rioolplaas werk.

“Dit bewys weer dat volgehoue druk op grondvlak seëvier. Sonder ons AfriForum-takbestuurslede wat aanhoudend druk op die plaaslike munisipaliteit toegepas het, sou daar definitief nie sukses gewees het nie,” het Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand gesê.

Related Articles

Back to top button