Local sportSport

Visvang in pa en seun se bloed

Pa en seun hengelduo, Pieter Schemel en Zeann Scholtz geniet dit om die sport saam te beoefen.

Vir Pieter Schemel en sy seun Zeann Scholtz gaan hengel oor baie meer as net stywe lyne.

Volgens Pieter neem hy graag vir Zeann om te gaan hengel juis om kwaliteittyd met hom te spandeer. Hulle gaan hengel ten minste een keer ‘n maand.

“Ek vang nog my hele lewe lank vis en dit is ‘n groot deel van my lewe. Dis vir my lekker om die jonger generasie te leer om te hengel. Ons is baie ernstige hengelaars en gaan hengel nie om te drink nie, ons gaan met die doel om die grootste vis te vang,” het Pieter, 50, gesê.

Zeann Scholtz het al aan verskeie kompetisies deelgeneem en sy provinsiale kleure by Sentraal Noordwes Varswater Oewerhengelvereniging verower voordat hy besluit het om suiwer op spesiehengel te fokus. Foto: ingestuur

Zeann is ‘n 17-jarige leerder van Hoërskool Jan Viljoen en hy is alreeds ‘n kranige hengelaar. Hy is ook baie kompeterend.

Volgens hom fokus hy op die tegniese aspekte van hengel en geniet die geleentheid om van die werklikheid te ontsnap wat hengel hom bied.

Zeann het gesê dat geduld, passie en navorsing van mens ‘n goeie hengelaar maak. Hy het al aan verskeie kompetisies deelgeneem en sy provinsiale kleure by Sentraal Noordwes Varswater Oewerhengelvereniging verower voordat hy besluit het om suiwer op spesiehengel te fokus.

“Ek het vroeër aan kompetisies deelgeneem, maar ek fokus nou al my energie op spesiehengel. Hengel is ‘n duur sport en ek kan nie wag om na skool my eerste werk te kry sodat ek dit uit my eie sak kan doen nie,” het hy gesê.

Sy gunstelingvis om te vang is karp wat volgens hom in die meeste varswaterbronne voorkom. Hy hengel graag regoor die land.

“Ek kry baie ondersteuning van die gemeenskap en Hook, Line & Sinker-hengelwinkel in Culemborg Park borg my om my liefde vir hengel te kan uitleef.”

Related Articles

Back to top button