Opinion

Feestyd verby, wat hou 2019 vir ons in?

Dit voel nog soos gister toe ek aan 'n lekker skaapboudjie gesmul het en my Kersete met vanillaroomys afgerond het..

As ek een van daardie huilgesiggies hier kon plaas wat op sosiale media gebruik word, dan sou ek want vir my was die feesseisoen in ‘n japtrap verby.

Dit voel nog soos gister toe ek aan ‘n lekker skaapboudjie gesmul het en my Kersete met vanillaroomys afgerond het. Ek is seker talle van julle voel dieselfde.

Nietemin hoop ek dat almal in Randfontein lekker gerus het en lus is vir 2019. Glo my, daar is baie om na uit te sien.

Kom ons begin met sport. In Mei skop die Krieketwêreldbeker in die Verenigde Koninkryk af. Volgens die amptelike webwerf is die heel eerste kragmeting op 30 Mei nogal tussen ons (die Proteas) en Engeland. Daarna pak ons vir Bangladesh op Sondag, 2 Junie; Indië op Woensdag, 5 Junie; Wes-Indië op Maandag, 10 Junie; Afganistan op Saterdag, 15 Junie; Nieu-Seeland op Woensdag, 19 Junie; Pakistan op Sondag, 23 Junie; Sri-Lanka op Vrydag, 28 Junie en Australië op Saterdag, 6 Julie.

Vier maande later is dit die Rugbywêreldbeker in Japan – die eerste een wat nog ooit in Asië gehou word. Die Springbokke pak heel eerste die wêreldkampioene, Nieu-Seeland op Saterdag, 21 September, gevolg deur ‘n kragmeting teen ons buurland Namibië op Saterdag, 28 September; Italië op Vrydag, 4 Oktober en Kanada op Dinsdag, 8 Oktober.

Op ‘n ernstiger noot word daar vanjaar in Mei landswyd verkiesing gehou. Ek glo daar sal ‘n paar katte in die duiwehok wees …

Moet asseblief ook nie skroom om die foto’s wat u in die feestyd geneem het, met ons by die Herald te deel nie. Epos dit vir ons na randfonteinherald@caxton.co.za of skakel ons by 011 693 3671.

Alles van die beste vir 2019!

Related Articles

Back to top button