Local newsNews

R50 000 ingesamel vir kinders met kanker

Welma Bam (Mev Randfontein tweede prinses en Choc Ambassadeur) kon dit nie sonder die gemeenskap se hulp gedoen het nie.

Tydens ‘n onlangse vroueaand ten bate van Childhood Cancer Foundation (Choc) is daar nagenoeg R50 000 vir dié liefdadigheidsprojek ingesamel.

Lynette Beer, ‘n bekende motiveringspreker het vroue vanuit die gemeenskap op 16 November by NG Helikonpark Tetélestai vermaak. Dié vroueaand is deur ‘n dinamiese groep vroue gereël, maar die fondsinsameling het veral vir Welma Bam (Mev Randfontein tweede prinses en Choc Ambassadeur) na aan die hart gelê.

Sanrie Nel en Reinette Herbst het die vroueaand terdeë geniet. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Ek wil net dankie sê vir elke persoon wat ‘n kaartjie gekoop het en wat die aand bygewoon het, want julle het ‘n verskil in iemand se lewe gemaak. Al die fondse van die kaartjieverkope en ander verkope deur die loop van die aand gaan aan Choc geskenk word. Romanelli Designs het R10 000 vir die liefdadigheidsprojek geskenk. Ons is baie geseënd met al die hulp van die gemeenskap af,” het Welma gesê.

Welma Bam (Mev Randfontein tweede prinses en Choc Ambassadeur) ontvang ‘n donasie van R10 000 aan Choc van Marisa Romanelli van Romanelli Designs. Foto: Jaco-Mari Futcher

Lynette se toespraak het gehandel oor waardering en liefde in verhoudings, en hoe die verskillende temperamente en liefdestale ‘n huwelik kan maak of breek. Met oulike en praktiese voorbeelde het sy die gehoor laat skaterlag.

Lynette Beer het die gehoor met oulike en praktiese voorbeelde laat skaterlag. Foto: Jaco-Mari Futcher

Volgens Amanda Nel, een van die organiseerders, was die aand ‘n reuse sukses. “Dit was lekker om te beleef hoe goedgesind die gemeenskap teenoor Choc is. Ons kon die geleentheid gebruik om ‘n verskil te maak. Vroue kon boonop iets leer én lekker lag,” het sy gesê.

Plaaslike borge het dit moontlik gemaak dat elke vrou ‘n oulike geskenkpakkie kon kry en dat daar groot pryse vir die gelukstrekking kon wees.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button