Local newsNews

Spesiale aand vir dorp se vroue

'n Plaaslike Classic SA Model and Arts-finalis het onlangs 'n vroueaand met Gretha Wiid as gasspreker gehou.

Tanya du Plessis, Classic SA Model and Arts-finalis het op Dinsdag, 6 November ‘n spesiale aand vir Randfontein se vroue by Fabulously Farmish gehou.

“Dit was eintlik ‘n fondsinsameling, maar daar was ook ‘n ernstige, geestelike aspek. Elke vrou is geskape met ‘n spesiale vingerafdruk wat God in haar hart plaas. Tydens dié aand kon vroue hul waarde as vrou, ma of vriendin saam met gasspreker Gretha Wiid herontdek,” het sy gesê.

Tanya du Plessis, Ansie Rossouw en Gretha Wiid tydens die vroueaand. Foto: Ingestuur

Om ’n vroueaand te hou was een van die vereistes wat aan Classic SA-kompetisiedeelnemers gestel is, en nadat Tanya besef het dat alle vroue dieselfde vrese het, het sy in haar hart gevoel sy wil graag ‘n verskil in vroue se lewens maak.

“My ma, Ansie Rossouw het my gehelp om die vroueaand te reël. Ek sou dit nie sonder haar kon doen nie, want sy is ’n groot seën van God af,” het sy gesê.

Die boodskap dié aand was dat vroue waardevoller is as wat hulle besef, al dink hulle dat hulle nie perfek is nie.

“Gretha het gepraat oor die alledaagse vrou se bekommernisse wat haar ontmoedig om aan te gaan. Nog ’n hoogtepunt van die aand was toe ek ‘n liedjie vir die vroue gesing het. Dit was ’n baie emosionele oomblik. Terwyl ek gesing het, het die vroue mekaar se kerse aangesteek en die gebaar het almal se harte aangeraak. Meeste vroue was in trane,” het Tanya gesê.

Daar was baie pryse en gelukstrekkings en ‘n groot aantal borge het bygedra tot ‘n suksesvolle aand. Elke vrou het ook ‘n geskenkpakkie ontvang. Die grootste borge was onder meer Adlem Auto, Blue Bottel Group en Hugo Batista.

Tanya du Plessis, Classic SA Model and Arts-finalis het tydens die vroueaand ook fondse vir Young People Care en Childhood Cancer Foundation ingesamel. Foto: Janine Pretorius

“Ek is baie dankbaar vir elke borg. God het gesorg vir die mooiste geleentheid en soveel seëninge het daarmee gepaard gegaan. Alles was tot eer van Sy Naam,” het sy gesê.

Classic SA se geregistreerde welsynsorganisasie is Young People Care (YPC) en ’n persentasie van die fondse wat ingesamel is, is aan YPC geskenk, wat dit op hul beurt aan verskeie ander organisasies sal skenk.

Daar is ook gedurende die aand ’n fondsinsameling gehou vir Childhood Cancer Foundation (Choc) en Dignity Dreams.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button