MunicipalNews

Rioolkopseer in Westergloor

Inwoners en besighede is al raadop oor die dreine wat oorloop in Westergloor.

’n Ernstige riooprobleem in Westergloor affekteer die daaglikse aktiwiteite van besighede en inwoners in die area.

Volgens Madelein Janse van Vuuren, ‘n werknemer van PG Autotraders in Piet Uysstraat loop al die dreine in die area al langer as ‘n maand oor.

Hulle het nou al ‘n gat in die muur gemaak dat die riool net uit die erf en in die stromdrein in die pad kan afloop, maar ‘n groot hoeveelheid riool dam nog in hul erf op. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Die besigheid hier langsaan se drein het probleme gegee en hulle het toe die drein toegesweis. Daarna het die rioolwater by al die ander dreine in die omgewing begin oorloop. Hulle het die toegeswyste drein weer oopgemaak, maar al die dreine loop steeds oor. Hier hang permanent ‘n stank in die lug en dis nie goed vir besigheid nie,” het sy gesê.

Volgens haar was die munisipaliteit al ‘n paar keer op die perseel om die dreine oop te maak, maar die volgende dag loop die riool weer in die pad af. Sy het gesê sy dink die hele dreinnetwerk in die omgewing is problematies en daarom loop al die dreine oor.

Rochelle Essack, ’n inwoner van Van Rensburgweg het ‘n hele dam rioolwater in haar erf. Hoewel dit duidelik is dat dit deel is van die groot rioolprobleem in die area, het die munisipaliteit gesê dat sy dit self moet laat regmaak.

Hulle het nou al ‘n gat in die muur gemaak sodat die riool uit die erf en in die stormdrein in die pad kan afloop, maar ‘n groot hoeveelheid riool dam nog in hul erf op. Foto: Jaco-Mari Futcher

“‘n Loodgieter was al twee keer hier en ek moes elke keer betaal, maar die probleem is te groot vir hom om reg te maak. Ons het nou al ‘n gat in die muur gemaak sodat die riool net uit my erf en in die stormdrein in die pad kan afloop, maar ‘n groot hoeveelheid riool dam steeds hier op,” het sy gesê.

Sy woon in die huis saam met haar man en drie kinders, maar as gevolg van die stank en die vlieë hou hulle al die deure en vensters toe. Haar jongste seun is sewe jaar oud en hy wil graag buite speel, maar selfs gedurende die vakansie moes hy binne bly.

“Dit voel of ons in ‘n tronk bly, maar ons kan nie buitentoe gaan nie. My kinders is baie naar en hulle kla van maagpyn; ek is seker dis weens die riool in ons erf. Ek probeer al vir ‘n maand lank tevergeefs om die munisipaliteit net te kry om die drein oop te maak. Ek het ook met ‘n raadslid gepraat, maar daar gebeur steeds niks nie,” het sy gesê.

Benewens die onaangename stank hou die rioolprobleem ‘n groot gesondheidsrisiko vir die werknemers en kliënte van die besighede in die omgewing asook die inwoners in.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button