Die AfriForum-tak in Westonaria het op 13 September sy Drom jou Rommel-projek geloods.
Esther Swart, voorsitter van dié AfriForum-tak het gesê dit is hul antwoord op die onlangse swak besluite deur die Westonaria Plaaslike Munisipaliteit.
“Hul besluit om die Libanon-vullisterrein oor naweke te sluit omdat die terrein reeds oorvol is, het ons as die Westonaria-tak van AfriForum aangemoedig om die Drom jou Rommel-projek te loods. Ons beoog om tydens die projek vullishouers op strategiese plekke in die dorp aan te bring en sodoende die vullisprobleem in Westonaria aktief aan te pak.”
Sy het bygevoeg dat dié projek slegs ’n tydelike oplossing is en dat die Westonaria-takbestuur die gemeenskap versoek om AfriForum tydens soortgelyke projekte te ondersteun om die omgewing skoon te hou.
Ons hele dorp lyk soos ’n vullisterrein omdat die amptelike terrein steeds nie volgens standaard bestuur word nie en ook nie voldoende finansiering ontvang nie. Oor die afgelope drie jaar was geen diensverskaffer nog bereid om aandag aan die terrein te gee teen die bedrag wat deur die munisipaliteit aangebied word nie.
“Tenders word tevergeefs aangebied, waarvan die mees onlangse rondte reeds teen 20 September sluit. Intussen moet daar steeds ’n poging aangewend word om hierdie haglike omstandighede te verbeter en daarom het ons as tak besluit om hierdie projek vir die volgende drie maande van stapel te stuur,” het Swart afgesluit.
Vullishouers gaan op die volgende plekke aangebring word:
• Hoek van Edelweis- en Diasstraat, Westonaria
• Hoek van West- en Creswellstraat (aan die begraafplaaspad se kant), Westonaria
• Hoek van Main- en Van der Bijlstraat, Venterspos
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!