MunicipalNewsUpdate

Nog ‘n legkaartstuk in die grafraaisel

Die graf van Jacob Jacobus Breytenbach in die Venterspos-familiebegraafplaas behoort glo aan Miems Steytler se oupagrootjie.

Miems Steytler, wat tans haar familiegeskiedenis nagaan, vermoed dat een van die grafte in ‘n weggesteekte begraafplaas in Venterspos, dié van ‘n familielid is.

Die Herald tesame met Gerhard Kruger, Randfontein DA PR-lid, het in 2015 ‘n onversorgde en weggesteekte begraafplaas in Venterspos ontdek. Nadat talle berigte oor dié onderwerp gepubliseer is, het Miems die Herald gekontak met ‘n antwoord oor die grafraaisel.

Haar familie het destyds in die Venterspos-omgewing gewoon en sy onthou nog hoe sy as kind saam met haar familie onder die groot bome in Venterspos piekniek gehou het.

Lees ook:

Hidden graveyard discovered

Lees ook:

Farmer gives tour of hidden W’aria graves

Miems is besig om die geskiedenis van die Breytenbachs en Fouries na te vors, en een van die foto’s wat die Herald geplaas het, het haar aandag getrek. Die van, Breytenbach, was duidelik sigbaar op die grafsteen.

“Die name op die graf is familiename en die datums stem ooreen met die tyd toe my oupagrootjie geleef het.

Ons het hom of my ouma nie geken nie en omdat die voorletters op die foto ‘n bietjie onduidelik was, het ek aanvanklik gedink dat dit my ouma se graf was, want sy is betreklik jonk oorlede. Toe ek die graf besoek het, het ek besef die name op die graf is moontlik dié van haar pa,” het Miems gesê.

Die ander grafsteen met dieselfde name, geboortedatums en sterfdatums. Foto: Jaco-Mari Futcher

Miems se ouma, Zachreia Maria Breytenbach, was haar oupa se tweede vrou. Zachreia is oorlede net vyf jaar na Miems se pa in 1918 gebore is.

In hierdie familiebegraafplaas is twee grafte met dieselfde name, geboortedatums en sterfdatums reg langs mekaar. Op die ouerige graf staan die naam JJ Breytenbach wat op 7 Desember 1869 gebore en op 7 Mei 1931 oorlede is. Die graf langsaan, wat nuwer lyk, is gemerk Jacob Jacobus Breytenbach wat ook op 7 Desember 1869 gebore is en op 7 Mei 1931 oorlede is.

“Ek vermoed dat my ouma saam met my oupagrootjie begrawe is, maar ek soek nog inligting oor hulle. Die meeste van my familie is oorlede en ek hoop om antwoorde te kry voordat ek ook nie meer hier is nie.

“Ek voel gerus noudat ek die graf ontdek het en self daar was. Ek gaan die foto’s en die inligting wat ek reeds oor die familie het, veilig stoor,” het Miems gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button