Local sportSport

Vrou met woema

Marilize Coetzee is nog net drie maande agter die stuur van 'n renmotor, maar sy skop reeds stof in die manne se oë.

Marilize Coetzee was agt jaar oud toe sy die eerste keer op ’n tweewielmotorfiets geklim het. Sy was egter 30 jaar oud toe sy haar passie vir motorsport begin uitleef het.

“As kind het ek verlief geraak op dié sport, maar ek was te besig met ander sportsoorte soos netbal, atletiek en fietsry om ’n loopbaan in motorsport na te jaag,” het sy gesê.

Sy het grootgeword met ’n passie vir motors en haar gunsteling aspek van motorsport is die spoed.

“My pa en my oom het die Randfontein Oval Renbaan begin, maar oom Anton is reeds oorlede. Ek het by die baan grootgeword en altyd my ouers gehelp waar ek kon. Ek het na 22 jaar besluit om self te begin ry en ek ry nou al vir drie maande,” het Marilize gesê. “My motorsportloopbaan het nog baie harde werk nodig en daar is baie uitdagings. Ek het baie doelwitte wat ek graag wil bereik en gaan hard werk om daar uit te kom,” het sy gesê.

Tans ry Marilize Coetzee in die V-Rod-klas wat net vir vroue is en sy gaan een van die dae in die 1660cc-klas begin ry wat baie meer kompeterend is. Foto: NDCO Photography

Sy het begin in die rookie-klas, wat vir beginners is, en het die meeste van haar wedrenne gewen. Tans ry sy in die V-Rod-klas wat net vir vroue is en sy gaan een van die dae in die 1660cc-klas begin ry wat baie meer kompeterend is.

Dis nie altyd vir Marilize maklik om as vrou aan ’n tipiese mansport deel te neem nie. Volgens haar sal sy graag meer teen mans wil kompeteer omdat hulle dink dat dié sport slegs vir hulle is. “Hulle beskou vroue wat goed is in motorsport gewoonlik as ’n groot bedreiging,” het sy gesê.

Haar gunsteling herinnering is die boeresport en familiedae wat sy by die baan bygewoon het toe sy jonger was. “Kinders weet nie meer hoe lekker boeresport is nie; ons wil dit graag terugbring en dit ’n jaarlikse instelling maak.”

Marilize Coetzee was agt jaar oud toe sy die eerste keer op ’n tweewielmotorfiets geklim het. Sy was egter 30 jaar oud toe sy haar passie vir motorsport begin uitleef het. Foto: NDCO Photography

Wanneer Marilize nie op die renbaan is, neem sy aan ander sport, veral fietsry deel.

Die voormalige Jannas-leerling het gesê dat vroue nooit mans as ’n bedreiging in die sportwêreld moet beskou nie. “Enige iemand kan aan wedrenne of aan motorsport deelneem as hulle passie en toewyding daarvoor het en bereid is om baie hard te werk.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button