Local newsNews

‘n Fees wat die harte warm gaan laat klop

Die eerste Driftwoord Winterfees skop op 14 Julie om 2nm af.

Die eerste Driftwoord Winterfees skop op 14 Julie om 2nm af.

Sewe Afrikaanse kunstenaars, ’n potjiekoskompetisie en ’n dansbaan onder die sterre is maar net ‘n paar van die trekpleisters.

Die dag gaan baie pret inhou vir oud en jonk en die organiseerders gaan 10 persent van die dag se wins aan die Just In Time Baby Santuary in Randfontein skenk.

Die fees gaan by die Driftwood Venue gehou word en volgens Ilze Joubert, die hooforganiseerder van die Winterfees is die hoogtepunt van die aand die kuier in die bomas en die potjiekoskompetisie.

“Daar gaan nagenoeg 10 bomas wees, elkeen met ’n gasvrou of -heer. Dit is hul verantwoordelikheid om kaartjies vir hul boma te verkoop en hulle gaan dan aan die potjiekoskompetisie deelneem.”

’n Gedeelte van die inkomste van die kaartjieverkope gaan gebruik word om bestanddele vir die potjies te koop. Die borge gaan die potjiekoskompetisie beoordeel en die wenners gaan met ’n lekker prys wegstap.

Die hoofkunstenaars wat gaan optree is Tanya V en AJ van der Mescht. Daar gaan ook ’n Mnr en Mej Driftwood gekroon word. Die wenners word deur ’n fotokompetisie bepaal.

“Ons gaan ’n dansbaan in die buitelug maak sodat almal tot laat onder die sterre kan kuier en dans,” het Ilze gesê.

Die aand hou nie net pret vir die grootmense in nie; daar gaan ook kindervermaak wees om die jongklomp besig te hou.

Ons gaan springkastele en stampkarretjies hier hê en daar gaan ’n TV-kamer met ’n oppasser wees vir wanneer die kinders later die aand begin rustiger raak,” het Ilze belowe.

Die fees word reeds deur baie van die besighede in die dorp ondersteun. “Ben Morgenrood is ons grootste borg, maar ons het ook kleiner borge,” het sy gesê.

Dié fees is ook daarop gemik om vir die mense van Randfontein te wys waartoe die nuwe bestuur van Driftwood Venue in staat is.

“Ons het in Januarie hier oorgeneem maar ons was tot dusver elke naweek volbespreek sodat ons nog nie die kans kon kry om iets te reël om ons aan die gemeenskap voor te stel nie,” het Ilze bygevoeg.

Dagbesoekers wat nie aan die potjiekoskompetisie gaan deelneem nie, is ook welkom by die kuierdag.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button