Local newsNews

Memphis – Die hond met nege lewens

Hulle het plakkate opgesit en pamflette versprei.

Op Woensdag, 7 Februarie, het Nadia en Quinton Prinsloo se twee honde – Memphis die Chow en Milo die Jack Russel – op die een of ander manier uit hul erf gekom.

‘n Sekuriteitsmaatskappy het vroeg gereageer op ‘n alarm wat afgegaan het, maar die egpaar is nou nog nie seker of hulle die honde per abuis laat uitkom het nie.

“Ons het Milo dieselfde dag gekry maar Memphis was skoonveld. Ons het die gemeenskap op Facebook gevra om hom te help opspoor, en by die DBV en veeartse gaan hoor of Memphis nie dalk by hulle uitgekom het nie,” het Nadia verduidelik.

Hulle het plakkate opgesit en pamflette versprei om hul hond te probeer opspoor. Op Woensdag, 25 April, het ‘n vriend wat gelukkig die plakkaat gesien het, haar laat weet dat daar al ‘n ruk lank soggens en saans ‘n Chow agter in hul erf lê. Daar is ‘n hekkie waardeur mens na die vlei agter hul erf kan stap.

“Ons het daardie dag in die vlei gaan kyk, maar niks gekry nie,” het Quinton gesê. Die volgende dag wou hulle weer gaan, maar kon nie hul vriend in die hande kry nie.

“Op Vrydag, 27 April het ek en my man die inwoners gevra of ons daar na Memphis kon gaan soek. Ons het Beenos (hondekoekies) saamgeneem,” het Nadia verder vertel.

Toe hulle na die hekkie aan die vlei se kant toe stap, het Memphis van die palissade se kant af aangekom. Hy was baie verskrik en wou weghardloop. “Toe ek op my hurke afgaan en die koekies na hom uitgehou het, het hy na my toe gehardloop,” het sy met ‘n groot glimlag gesê.

Memphis het baie verwaarloos gelyk weens al sy ontberings in die 80 dae sedert sy verdwyning. Hy was baie maer en vol knapsekêrels, maar kon uiteindelik huis toe gaan waar hy goed versorg word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button