Local newsNews

Taal is nie ‘n struikelblok nie

In Graad 11 is Paula-Jade as Mejuffrou Senior Jan Viljoen aangewys, en sy was ook in Graad 9 'n finalis in die Miss Mogale City-kompetisie.

Paula-Jade Lisher, 18, onderhoofmeisie van Hoërskool Jan Viljoen, is nie maar net nog ‘n Graad 12-leerder nie.

Paula-Jade, wie se huistaal Engels is, was eers in ‘n Engels-medium hoërskool. In haar Graad 8-jaar het sy by Hoërskool Jan Viljoen ingeskryf en beskou die verandering as een waaruit sy baie geleer het. Haar ma, Diana Lisher, het haar baie gemotiveer en sodra Paula-Jade begin voel het dat dinge vir haar te veel raak, het sy haar moed ingepraat.

Diana and Paula-Jade voel laf na een van die kompetisies. Foto: Ingestuur.

Danksy die Jannas-onderwysers en die maats wat sy gemaak het, het sy besluit om dinge te beproef waarvoor sy voorheen nie kans gesien het nie.

In Graad 9 het sy aan die Meneer en Mejuffrou Jan Viljoen-kompetisie deelgeneem, ten spyte daarvan dat sy van haar ligamente met netbal geskeur het. Haar ma het haar aangemoedig en sy het besluit dat sy niks het om te verloor nie. Sy wen toe sowaar daardie aand die Mej Junior Jan Viljoen-titel!

Paula-Jade Lisher toon haar uitsonderlike talent tydens ‘n fotosessie. Foto: Exquisite Photography.

In Graad 11 is Paula-Jade as Mejuffrou Senior Jan Viljoen aangewys, en sy was ook in Graad 9 ‘n finalis in die Miss Mogale City-kompetisie. Op sportgebied het sy as netbalspeler in die eerstespan uitgeblink, en op die atletiekbaan het sy twee rekords in die 400m-item geslaan. Sy is ook al as die senior victrix ludorum aangewys.

Vanjaar is sy lid van Jannas se Pom-Poms, en gaan in April as finalis aan die Mej Randfontein Senior-kompetisie deelneem. “Ek het eendag met ‘n halwe oor na die afkondigings in die skoolsaal gesit en geluister. Skielik roep hulle my naam uit en almal klap vir my hande.

Ek het nie verstaan hoekom nie, totdat ek gehoor het ek is een van die top 10 wat gekies is om by ‘n universiteit aan ‘n atletiekbyeenkoms deel te neem,” het sy laggend vertel.

Paula-Jade het baie hard aan haar selfvertroue gewerk. Sy glo egter, “You must be confident, but have a humble confidence. Do not think you are better than others.” Paula-Jades se pa, Raymond motiveer haar ook. Hy voel gerus dat Diana nie druk op hul dogter sal plaas om iets teen haar sin te doen nie.

Tydens ‘n Meneer en Mej Jan Viljoen-kompetisie het ‘n beoordelaar haar raakgesien haar selfvertroue op die loopplank as uitstekend beskryf – ten spyte daarvan dat sy geen opleiding daarin het nie.

Dié uitblinker wil egter na skool Sportgeneeskunde studeer en deeltyds modelwerk doen.

Paula-Jade bedank graag almal by Hoërskool Jan Viljoen vir hul bystand en alles wat hulle haar geleer het. Diana is besonder dankbaar teenoor die skool dat hulle haar dogter so goed help ontwikkel het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button