MunicipalNews

Word Toekies vir die wolwe gegooi?

Voorsitter van die DA in Wyk 10 het die Herald op 'n insiggewende maar ontstellende toer deur Toekomsrus geneem.

Op Dinsdag, 20 Februarie het Koekie Alie, voorsitter van die DA in Wyk 10, die Herald op ‘n insiggewende maar ontstellende toer deur Toekomsrus geneem.

Daar is met inwoners van onder meer Banana-, Pynappel- en Stormrivierstraat, en Cougharivierweg gesels.

Alie het vertel dat hulle rekeninge van die munisipaliteit ontvang, hoewel dit onmoontlik is om die meters te lees.

“Die meeste meters is nie sigbaar of toeganklik nie. Hoe op aarde kry die munisipaliteit die bedrae as hulle nie die meters lees nie?” het Alie vurig gevra.

Esmie Fritz, 70, ‘n pensioenaris, bevestig dit, en het gesê sy kry ‘n rekening van R600 per maand, maar haar meter is toe onder die grond. Caroline Londen, 60, wat al 24 jaar lank in Toekomsrus bly, het ook ‘n meter wat glad nie gelees kan word nie. Doreen Forteins het dieselfde probleem.

Lees ook: JUST IN: Toekies becomes a war zone

Op die rekeninge wat die Herald gesien het, is bedrae van R5 600, R3 500 en R6 350 wat die inwoners moet betaal.

Nhlongo Lindiwe staan by een van die baie oop kragbokse.

Ander klagtes is dat rommel oral onwettig gestort word – selfs dooie diere. Eliza Makhathini, wat in Stormrivierstraat bly, het vertel van die vlieëplaag en dat sy baie siek word omdat die rommelstorting die ergste in haar straat is.

In Pynappelstraat is daar ‘n pyp wat volgend die inwoners drie jaar gelede gebars het en waaruit skoon water vloei en net gemors word. “Die Kaap het nie water nie, en hier loop vars water nag en dag uit,” het Alie gesê. Die rioolstelsel is glo nie sedert 1973 opgegradeer nie en verskeie dreine het al ingeval, wat dit gevaarlik maak vir die kinders wat daar speel.

Die munisipaliteit sny ook nooit die gras nie. “Slange en rotte amper so groot soos katte kruip in die gras weg,” het Caroline Londen gesê.

Toekomsrus se slaggatdamme.

“Bananastraat is so gevaarlik. Daar is nie spoedhobbels nie, en karre het al drie keer deur my muur gery,” het Fritz vertel. Daar is ook weinig straatligte, wat dit baie gevaarlik maak vir inwoners, veral vir vroue en kinders.

Een van die ernstigste probleme is die oop kragbokse. ‘n Ruk gelede is ‘n jong seuntjie by so ‘n oop kragboks doodgeskok. ‘n Ander kind het volgens Forteins brandwonde by een van die kragbokse opgedoen.

Die Toekomsrus-swembad is steeds nie herstel nie. Daar is ook geen fasiliteite wat die kinders kan besig hou nie. Die biblioteek is herstel, maar niks verder word gedoen nie. “Ons kinders kan nie eers meer daar gaan lees nie,” het Alie vertel.

Eliza Makhathini staan by die rommel.

Dwelms is een van die grootste probleme in Toekomsrus en die polisie doen glo nie eers klopjagte daar nie. Die speelparkie is ‘n dwelmhool en al die staalstrukture word weggedra en verkoop, dus kan die kinders ook nie meer daar speel nie.

Die twee onlangse moorde in Toekomsrus is ‘n aanduiding van die maatskaplike verval in ‘n gemeenskap waar die inwoners toenemend onveilig voel.

Nog ‘n drein wat flenters is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button